AfriForum ruim vuil, vervalle park in Keimoes op
’n Vervalle park in die hartjie van Keimoes is onlangs nuwe lewe ingeblaas nadat die AfriForum-tak op die dorp ingespring het om die park op te knap. Dit het dié tak drie dae geneem om al die rommel op te tel en van die vullis ontslae te raak wat onwettig daar gestort is.
Lede van die AfriForum-tak was raadop oor die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit se voortdurende onwilligheid om die park skoon te hou en diegene vas te vat wat dit as ’n onwettige stortingsterrein gebruik. Die park word al vir jare lank verwaarloos en gebruik om allerlei soorte afval, soos doeke, te stort. Die park word boonop gebruik as ’n saamkomplek om alkohol en dwelms te misbruik. Menslike ontlasting is selfs al in die park gewaar, hoewel daar openbare toiletgeriewe by die park beskikbaar is.
“Afgesien van die feit dat die gras en bome nooit gesny of gesnoei word nie, is die dromme gedurig vol omdat dit nooit deur die munisipaliteit leeggemaak word nie. Dit veroorsaak dat mense sommer hul rommel enige plek in die park strooi of die vullis aan die brand steek,” sê Meisie Pool, voorsitter van AfriForum se Keimoes-tak.
“Die park is nie net ’n seeroog vir die eens mooie dorp nie, maar dit het ook onveilig geraak vir die gemeenskap om dit behoorlik te benut. Daarom het AfriForum besluit om veranderinge te maak, selfs al is die munisipaliteit nie bereid om hand by te sit nie,” voeg Pool by.
Kobus Pool, lid van AfriForum se Keimoes-tak, en nóg twee helpers het op 26 Oktober ingespring en orde geskep. Hulle het vier vragte rommel opgetel en weggery, die bome gesnoei en seker gemaak dat die dromme leeggemaak is. Die gras is gesny en die res van die park is skoon gevee. Ná drie dae se werk kon die gemeenskap eindelik spog met ’n mooi en skoon park.
Pool sê verbygangers en inwoners is stom geslaan wanneer hulle die opgeknapte park sien en het reeds hul dank betuig oor die harde werk wat gedoen is om die toestand van die park te verbeter.
AfriForum is daartoe verbind om ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing vir gemeenskappe te skep. Besoek www.wordlid.co.za om by die burgerregteorganisasie betrokke te raak en ‘n verskil te maak.