|

Bloem se slaggate skoonveld danksy AfriForum-inisiatief

Die AfriForum-tak in Bloemfontein-Noord het onlangs die inisiatief geneem om ’n omvangryke slaggatprojek in die noordelike voorstede van hierdie stad aan te pak. Die projek is daarop gemik om besige strate wat in ’n benarde toestand is, te herstel, sodat dit weer swaar verkeer kan hanteer. Die tak het reeds ongeveer vyf ton teer en 25 liter-seëlmiddel gebruik om die nodige herstelwerk aan paaie te doen.

In samewerking met die padbou-maatskappy Raubex (Roadmac Resurfacing), het die Bloemfontein-Noord-tak besluit om die projek in vier fases te verdeel. AfriForum het die koste van die nodige materiaal gedek, terwyl Raubex die tegniese kundigheid en arbeid verskaf.

Die eerste fase van die projek, wat die herstel van slaggate op Kayserstraat en die uitgang van die sirkel by Raymond Mhlabastraat insluit, is ná drie dae se werk voltooi. Die verbeterings aan hierdie paaie was uiters belangrik, aangesien beide roetes gereeld swaar verkeer hanteer. Kayserstraat word daagliks deur honderde voertuie gebruik wat na die behuisingskomplekse in Tielman Roos gaan. Die pad het al so erg verswak dat motoriste genoodsaak was om aan die verkeerde kant van die pad te ry. Die uitgang by Raymond Mahlabastraat, ’n belangrike roete vir noordelike verkeer uit Bloemfontein, was ook in ’n gevaarlike toestand en het al tot erge skade aan voertuie gelei.

“Weens swak munisipale bestuur is die gebrekkige instandhouding van paaie ’n groot risiko vir padgebruikers. Dit lei tot onnodige skade aan voertuie en verhoog die gevaar van motorongelukke. Dis onaanvaarbaar dat die  Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit nie in staat is om sy eie infrastruktuur te onderhou nie, maar dat die gemeenskap eerder gedwing word om hierdie verantwoordelikheid oor te neem,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum beoog om ná die feestyd met die tweede fase van die projek te begin. Die tweede fase behels broodnodige herstelwerk aan paaie in David Fourie- en Ursinusstraat, asook die ingang van Wardenstraat vanaf Wilcocksweg.

Sluit vandag nog by AfriForum aan om aandeel te hê in die verbetering van Bloemfontein.  Besoek www.wordlid.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings