|

Stop eers dié gate (en wanbestuur) voordat Gauteng se krane leegloop, eis AfriForum

AfriForum het vandag ’n dringende beroep op die Johannesburg-metro gedoen om ’n grootskaalse inisiatief vir die herstel van waterlekkasies aan te pak en die vervanging van verouderde pyplyne en deurlopende instandhouding van die waternetwerk in die stad te prioritiseer. Dié elementêre inisiatiewe is noodsaaklik om die mensgemaakte “Dag Zero”-krisis, wat ontstaan het as ’n produk van swak munisipale en provinsiale bestuur onder leiding van die ANC in dié wêreldstad en provinsie af te weer.

Pemmy Majodina, minister van die Departement van Water en Sanitasie (DWS), het vandag tydens ’n mediakonferensie ’n rits oplossings vir die stad se waterprobleme voorgelê. Hoewel AfriForum Majodina se erkenning van die krisis en sekere van haar voorstelle verwelkom, meen die burgerregteorganisasie dat daar erken moet word dat die probleem voorkom kon word, maar dat dekades lange ondoeltreffendheid op munisipale en provinsiale vlak, wat tot die grootskaalse verval van die waternetwerk gelei het, vir te lank geïgnoreer is. Daar moet daarom nou moeite gedoen word om wanbestuur in die stad wortel en tak uit te roei.

“Die vorige premier van Gauteng, David Makhura, het al in 2018 gewys op ’n dreigende waterkrisis in die provinsie. Daar is toe reeds voorspel dat indien daar nie die nodige onderhoud en infrastruktuurontwikkeling gedoen word nie, die provinsie teen 2025 nie genoegsame water sal hê nie. Sedertdien het Panyaza Lesufi, as huidige premier, hom veel eerder besig gehou met politiekery as om in die belang van die provinsie op te tree. Ons is nou aan die vooraand van daardie onheilspellende voorspelling en intussen het die probleem selfs meer omvangryk geword. Johannesburg se wonde moet nou dringend verpleeg word sodat die langtermynvolhoubaarheid wat watervoorsiening op koers gebring kan word – en die eerste stap is die dringende instandhouding van infrastruktuur,” benadruk Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van Omgewingsake.

Volgens De Klerk is die tyd nou ryp vir groter samewerking tussen munisipaliteite en die privaat sektor. “Daar behoort nou ondersoek ingestel te word na maniere waarop die privaat sektor sekere dienste namens munisipaliteite kan bestuur. Talle meganismes wat tot die implementering van hierdie oplossings sal bydra, bestaan reeds, insluitende ’n spesialedoelentiteit (oftewel ’n special purpose vehicle, SPV), memorandum van verstandhouding, diensooreenkomste en openbare-privaat samewerking,” sluit De Klerk af.

AfriForum het intussen op 31 Oktober ’n veldtog afgeskop waardeur inwoners van Gauteng op ’n interaktiewe platform (www.waterkrisis.co.za) waterlekkasies kan aanmeld. Die veldtog is daarop gemik om verantwoordelike munisipaliteite se hersteltempo te monitor en die verlies van drinkwater weens lekkasies – wat in Gauteng tans op nagenoeg 33% gereken word – te verminder. Waterverliese in Johannesburg word tans op sowat 35% geskat en is meer as dubbel die internasionale norm van 15%.

Lambert de Klerk (Engelse klankgreep)
Lambert de Klerk (Afrikaanse klankgreep)

Soortgelyke plasings