AfriForum versoek opheffing van verbod op kosverkope deur gekeurde verkopers by skole
AfriForum is ernstig bekommerd oor die onlangse vlaag van voedselvergiftigingsgevalle waardeur leerders geraak is en betuig innige meegevoel met almal wat familielede as gevolg hiervan aan die dood afgestaan het, of self siek geword het. Terselfdertyd is AfriForum ook bekommerd oor opdragte deur provinsiale onderwysdepartemente wat die verkoop van voedsel op skoolterreine verbied. Die Gautengse Onderwysdepartement is die mees onlangse instelling wat so ’n opdrag uitgereik het.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, stem dié burgerregteorganisasie saam dat stappe om meer gevalle en sterftes te voorkom, noodsaaklik is, maar hierdie verbod is veels te drasties en sal leerders negatief raak, of selfs aan groter gevaar blootstel.
“Vir sommige kinders is gemagtigde snoepies op die skoolterrein die enigste manier om ’n middagete te kry. Hierdie verkopers doen ook spyseniering vir skoolfunksies. Daarbenewens verskaf sommige selfs kos vir privaatbefondsde skemas wat hulpbehoewende kinders ondersteun. Verder bied verkope ’n geleentheid om bykomende befondsing vir skole te kry. Deur voedselverkope deur gekeurde verkopers, wat aan die nodige registrasie- en gesondheidsvoorskrifte beantwoord, te verbied, word leerders nou gedwing om by ongekeurde verkopers buite skoolterreine eet- of snoepgoed te koop, wat ’n groot risiko vir hul welstand skep, in plaas daarvan om hulle te beskerm,” sê sy.
AfriForum het die Gautengse Onderwysdepartement in ’n dringende skrywe versoek om gemagtigde verkopers wat kan bewys dat hulle aan alle voorskrifte beantwoord, toe te laat om die verkoop van voedsel te hervat. Verder is gevra dat die departement dringend met alle betrokke munisipaliteite en die Departement van Gesondheid skakel om te sorg dat gesondheidsinspekteurs verkopers in die omgewing van skole besoek, ten einde te verseker dat hulle aan alle nodige vereistes voldoen.
Soortgelyke opdragte van owerhede in ander provinsies sal ook deur AfriForum ondersoek en opgevolg word.