|

AfriForum stig tak in Theewaterskloof-omgewing

Die burgerregteorganisasie AfriForum het verlede week ’n tak in die Theewaterskloof-omgewing gestig en ’n bestuur vanuit die gemeenskap gekies om die inwoners in hierdie Wes-Kaapse munisipaliteit te dien. AfriForum-lede wat die stigting bygewoon het, het gemeenskapslede genomineer om op die bestuur te dien en sonder beswaar was die nominasies aanvaar.

Die bestuur bestaan uit Carel Kriel (voorsitter), John Carlile (ondervoorsitter), Kate Severein (sekretaresse), Pam Coetzee (tesourier), Martin Barnard (gemeenskapsveiligheid) Henry Luyt (plaaslikeregeringsake) en Hannes Cooper (omgewingsake).

“Dis altyd lekker om te sien hoe lede van die gemeenskap bereid is om hul tyd en energie te gee om ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Ons sien uit daarna om die uitdagings in die gebied saam met die nuwe bestuur aan te pak,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die tak gaan daarop fokus om die gemeenskap by projekte te betrek en gaan onder meer daarop fokus om saam met plaaslike owerhede en ander rolspelers te werk, asook self moue op te rol om probleme uit die weg te ruim. Gemeenskapsveiligheid en plaaslikeregeringsake sal van die belangrikste fokusareas van die tak wees.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by hulle betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za om hierdie tak te ondersteun.

Soortgelyke plasings