|

Grootste stryd nóg vir Afrikaanse kultuurgemeenskap

AfriForum en meer as 40 ander rolspelers het vandag ’n memorandum onderteken wat môre (5 November) aan die verskillende politieke partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) en verteenwoordigers van die regering oorhandig sal word om protes teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (die Bela-wet) aan te teken.

In die memorandum word die belangrikheid van moedertaalonderrig en die rol van beheerliggame onder meer beklemtoon. Daarmee saam word enige aanvalle op Afrikaanse skole en die insluiting van artikels 4 en 5 van die Bela-wet, wat daarop gemik is om openbare skole se beheerliggame se magte in te perk, in die memorandum verwerp.

Meer as 7 000 mense het reeds geregistreer om aan die protesoptog vanaf die Voortrekkermonument (VTM) na Vryheidspark deel te neem om hul steun aan hierdie belangrike saak te gee.  Dié kwessie is volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, die grootste uitdaging vir die Afrikaanse kultuurgemeenskap sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het.

“Die stryd teen die Bela-wet is ’n stryd vir die voortbestaan van ons kultuurgemeenskap. Ten einde ’n magsbalans te handhaaf en om ter beskerming van Afrikaanse kultuurgemeenskappe se oorlewing op te tree, is sigbare protes nodig, wat verduidelik waarom hierdie protesaksie noodsaaklik is,” sê Kriel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, onder teken die memorandum.

Die Bela-wet sal onder meer openbare skole se beheerliggame van hul reg om self oor hul skole se taal- en toelatingsvereistes te besluit, stroop. Dié wet word uit sekere oorde as ’n haatgedrewe en  sosialisties beskryf.

Ernst Roets, voorsitter van die Afrikanerstigting, het die Bela-wet as destruktief beskryf en meen dit sal staatsverval laat versnel. Willie Aucamp van die DA meen die ANC gebruik die Bela-wet om hul eie onvermoë om skole te bou, toe te smeer en dat alle moontlike middele ingespan moet word om dit teë te sit. Carel Boshoff, wat die vergadering namens die FAK bygewoon het, sê die ANC se optrede is ’n vorm van kolonialisme.

Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, het die publiek aangemoedig om by die protesaksie aan te sluit omdat die Afrikaner-gemeenskap uitmuntende Afrikaanse skole moet beskerm. “Hierdie is nie ’n klein saak nie en dit gaan oor die oorlewing van ons taal en kultuur. Moedertaalonderrig is die siel van die gemeenskap en ons moet wat ons het, met alles wat ons het beskerm.”

Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit

Verrigtinge by die VTM begin môre om 09:00 wanneer sprekers insluitend ministers Gayton McKenzie, John Steenhuizen en Pieter Groenewald kort spreekbeurte sal hê. Die optog na Vryheidspark begin om 10:00.

Lede van die publiek wat aan die protesoptog wil deelneem, word aangemoedig om by www.belaprotes.co.za te registreer om ook deel van hierdie belangrike saak te wees. Alle inligting oor die optog is ook op die registrasieblad beskikbaar.

Lees die volledige memorandum wat vandag onderteken is hier.

Soortgelyke plasings