|

Delmas Valke stuit vermeende dieseldief in spore; lê beslag op 100 liter diesel

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het in Oktober tot die gemeenskap se veiligheid bygedra deur in verskeie voorvalle van hulp te wees. Die buurtwag kon daarin slaag om ’n voorval van dieseldiefstal te fnuik nadat inligting oor ’n verdagte voertuig langs ’n vragmotor ontvang is. Die buurtwag het terselfdertyd ook 100 liter diesel, wat in vier 25 liter dromme getap is, teruggevind. Tydens die tweede voorval het die buurtwag op ’n roetine-patrollie op ’n vragmotor afgekom en ’n verdagte gearresteer wat moontlik betrokke was by die diefstal van die diesel.

Die buurtwag het boere gehelp met ’n voorval waar ses koeie gesteel is. Gedurende ’n opvolgoperasie het die buurtwag vyf van die koeie teruggevind en ook ’n slagplek ontdek waar daar verskeie karkasdele gevind is van vorige slagtings. Daar is egter geen verdere leidrade gevind wat die buurtwag op die verdagtes se spoor kon sit nie.

Die buurtwag het ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gehelp met besoeke aan drinkplekke in die dorp en omliggende informele nedersetting. Tydens die besoeke is boetes uitgereik vir die oortreding van die drankwet en ’n verdagte motorbestuurder is gearresteer. Die voertuig is voorgekeer en deursoek; daar is op leë plastieksakkies afgekom wat moontlik vir dwelmverkope gebruik is. Daar is ook ketamiene in die voertuig gevind.

Die SAPD het die buurtwag ook om hulp gevra met die arrestasie van ’n verdagte wat moontlik by voorvalle van diefstal en roof betrokke was. Daar is verskeie items, waaronder twee replika-vuurwapens, selfone, bankkaarte en verskeie identiteitsdokumente, in sy besit gevind.

Die buurtwag het ook op 24 Oktober deelgeneem aan ’n gesamentlike operasie op die N12 waar Lugvleuel-eenhede vanaf Mpumalanga en Gauteng met hommeltuie ontplooi het om ysterpenlokvalle en kapings op dié hoofroete te stuit.

Die Delmas Makietie het ook die Delmas Valke-buurtwag en -mediese span ingeroep om te help dat alles vlot verloop. Die lede het die makietie-gronde gepatrolleer om feesgangers se veiligheid te verseker. Honderde mense het die makietie bygewoon en daar is geen ernstige voorvalle aangemeld nie. Daar was wel ’n mediese voorval waarmee Delmas Valke se mediese span kon uithelp.

In Oktober het die mediese span op 19 mediese voorvalle gereageer, waaronder motorongelukke en voorvalle waar mense brandwonde opgedoen het. Die lede het hulp aan die pasiënte gebied totdat die nooddienste opgedaag het.

“Ons span is besig om harde houe in die stryd teen misdaad toe te dien. Daar is alreeds beplannings vir uitgebreide operasies vir die feesseisoen,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas tak.

Soortgelyke plasings