|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n waterveldtog afgeskop om “Dag Zero” in Gauteng te voorkom. Dié burgerregteorganisasie het ook die versoek verwelkom van die nuwe burgemeester in die Tshwane-metro om die samewerkingsooreenkoms wat tussen dié partye tydens die vorige administrasie in die metro aangegaan is, te bespreek. AfriForum sal egter in ieder geval met dienslewering in dié stad voortgaan.

Met ’n “Dag Zero”-scenario wat Gauteng se voorland kan wees, het AfriForum ’n veldtog van stapel gestuur om munisipaliteite in dié provinsie te noop om waterlekkasies binne 72 uur te herstel. AfriForum se interaktiewe platform, www.waterkrisis.co.za, sal ook Gautengse inwoners in staat stel om lekkasies te identifiseer en te rapporteer om dit vir munisipaliteite makliker te maak om by hierdie doelwit uit te kom.

Lambert de Klerk en Anita Dupper tydens AfriForum se waterveldtog in Pretoria-Noord.

AfriForum het vandeesweek die nuwe burgemeester in die Tshwane-metro, Nasiphi Moya, se uitnodiging vir samesprekings oor AfriForum en die Tshwane-metro se samewerkingsooreenkoms, verwelkom. Dié burgerregteorganisasie sal egter, ongeag die uitkoms van die gesprekvoering, voortgaan met dienslewering in die metro. Dit volg ná die EFF se hoofsweep in die Tshwane-metro, Godwin Ratikwane, teen AfriForum uitgevaar het en daarop aangedring het dat die ooreenkoms geskrap moet word.

Stellenbosch Munisipaliteit se verbete pogings om feite oor die gehalte van water in dié munisipaliteit geheim te hou, sal binnekort iets van die verlede wees wanneer die resultate van privaat toetsing wat in opdrag van AfriForum gedoen word, vrygestel word. Daar is gerugte dat onverwerkte riool in die Veldwagters- en Eersterivier gestort word.

Die AfriForum-tak in Upington het ’n reuselekkasie herstel. Die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit het minstens drie jaar lank versuim om dié pyp te herstel. Omtrent 50 liter water het per uur hier verlore gegaan.

Daar is nou 50 minder slaggate in Parys ná die AfriForum-tak in dié dorp moue opgerol het en self herstelwerk gedoen het.

AfriForum het onlangs 50 slaggate in Parys herstel.

Die Keimoes-waterwiel het ’n nuwe baadjie gekry nadat die AfriForum-tak in dié dorp dit opgeknap het. ’n Lekkasie is onder meer herstel en stene in posisie teruggeplaas om alles netjies af te werk.

Die AfriForum-tak in Witrivier het onlangs R10 000 aan die Kruger Laeveld Kamer van Koophandel en Toerisme (KLCBT) se kameraprojek geskenk om veiligheid in die gebied op te skerp.

Krugersdorp is verder beveilig ná die AfriForum-tak in die dorp ’n tweede brandkraanoudit afgehandel het. Die eerste oudit is in Junie vanjaar aangepak en vir die tweede oudit is 26  brandkrane skoongemaak, getoets en gemerk.

AfriForum se Alberton-tak het die afgelope naweek slaggate herstel en padtekens oorgeverf. Bykans ’n halwe ton teer is vir die herstel van slaggate gebruik en 21 liter verf vir die verfwerk.

Die AfriForum-tak in Edenvale betreur die afsterwe van Linda McKenzie, die tak se ondervoorsitter, wat Saterdagoggend 26 Oktober ná ’n dapper stryd om haar gesondheid oorlede is. McKenzie was sedert die ontstaan van dié tak in 2018 ’n steunpilaar van die tak en was onwrikbaar in haar toewyding om Edenvale op te hef.

Soortgelyke plasings