|

Teks-buurtspan vul gate en maak nog groenstroke skoon in Secunda

Die buurtspan van AfriForum se Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-tak (oftewel die Teks-tak) het in Oktober nuwe asem in Secunda ingeblaas.

Die span het ’n skoonmaakprojek agter Marietjie Skool en Highveld Christian College aangepak, waartydens die lang gras gesny en die tuinvullis opgeruim is. Rommel is ook opgetel en verwyder. Die area bestaan uit 5 150 vierkante meter. Die Davieshof-gronde is ook opgeruim en netjies gemaak. Die Teks-buurtspan het vanjaar al minstens 93 000 vierkante meter se areas skoongemaak.

Die buurtspan het ook slaggate in die dorp herstel. Lede van die Teks-takbestuur het self hand bygesit en verseker dat die span die nodige opleiding ontvang om die gate reg te herstel. Daar is meer as 500 vierkante meter slaggate herstel en meer as 980 sakkies teer daarvoor gebruik. Die paaie waarop daar gefokus is, is Bergrivier-, Janson-, Mckay-, Renosterberg-, Sammy Marks-, Stow- en Tugelatraat. Die gate se basis is oopgegrou en deeglik herstel voordat ’n nuwe laag teer gegooi is. Die gate is ook geseël om te verseker dat die padoppervlak nie weer verval wanneer dit reën nie.

Die buurtspan werk tans aan die opruiming van ’n groenstrook in Leydsstraat in Secunda en hoop om die werk spoedig te voltooi.

“As dit nie vir die buurtspan was nie, het Secunda al in totale verval vergaan. Inwoners se veiligheid word drasties deur hierdie projekte verbeter,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

Soortgelyke plasings