AfriForum bring einde aan jarelange lekkasie in Upington
Die AfriForum-tak in Upington het ’n reuse-lekkasie aan ’n waterpyp op die hoek van Bultstraat en dr Nelson Mandelarylaan herstel, nadat die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit versuim het om dit te doen. Weens dié lekkasie is daar vir minstens drie jaar meer as een miljoen liter gesuiwerde drinkwater vermors. Die water het in ’n spruit ingevloei wat ’n moeras vorm en dan 800 meter verder af uiteindelik in die Oranjerivier beland.
AfriForum het al telkemale hierdie lekkasie aan die Dawid Kruiper-munisipaliteit gerapporteer, maar die versoek om dit te herstel was tevergeefs. Daar is vasgestel dat daar 50 liter water per uur by die een die lekkasie uitgevloei het; dit is meer as 1,7 miljoen liter water wat oor ’n tydperk van vier jaar verlore gaan.
Die Dawid Kruiper-munisipaliteit mors 40% gesuiwerde drinkwater per jaar net deur waterpype en lekkasies wat nie herstel word nie. Selfs die reservoirs lek en is in ’n haglike toestand. Party van die opgaardamme kan nie werk op vol kapasiteit nie want dit is te oud en lek weens krake.
“Dis onregverdig dat elke huishouding ekstra per maand betaal as gevolg van die waterlekkasies, maar tog is daar watertekorte in Upington en omliggende gebiede,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
AfriForum bedank Oryx Plumbing wat gehelp het om die herstelwerk aan die waterpyp te doen. Daar is uiteindelik drie seëls en drie pakstukke geïnstalleer.