AfriForum-tak toets en beveilig Krugersdorp se brandkrane
AfriForum se Krugersdorp-tak het die afgelope naweek ’n tweede brandkraanoudit aangepak en daarin geslaag om nóg 24 brandkrane te toets. Dié oudit volg op die eerste een wat op 22 Junie gedoen is, waartydens 26 brandkrane skoongemaak, getoets en gemerk is.
Op 26 Oktober 2024 het die tak brandkrane in die Rant-en-Dal-omgewing geïdentifiseer, ondersoek, getoets en skoongemaak. Die tak het ook seker gemaak dat al die brandkrane duidelik gemerk is. Een van hierdie brandkrane kon egter nie gevind word nie en ’n ander een was nie meer bruikbaar nie.
“Hierdie soort projekte is uiters belangrik vir die welstand van die gemeenskap. Ná verlede jaar se verwoestende brande, waartydens verskeie huise in die slag gebly het, is dit van kardinale belang om die gemeenskap se veiligheid te verseker,” sê Thys Blom, AfriForum se projekleier vir die Krugersdorp-tak.
Blom voeg by dat die projek se sukses nie moontlik sou wees sonder die toewyding en harde werk van AfriForum se patrolleerders, die brandweer se reserviste, Mith en Dale Mac Rae, asook die raadslid Aloysha Jooste en die paar gemeenskapslede wat hand bygesit het nie.
Die Krugersdorp-tak moedig die gemeenskap aan om by die plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak. Klik hier om aan te sluit.