200 bederfbokse aan behoeftige kinders geskenk
AfriForum is bekend vir selfdoenprojekte en om terselfdertyd hoop te skep. Juis om hierdie rede het die organisasie se personeel besluit om terug te gee deur 200 “hoopbokse” vir kinders in die Jakarandastad te pak en uit te deel.
Die organisasie se projekte-afdeling het die res van die personeel by hierdie teruggeeprojek betrek en die personeel het met ywer ingespring om self items te skenk, die bokse te verpak en om dit by die ontvangers te gaan aflaai.
Die bokse, met allerlei bederfitems soos boeke, lekkernye, speelgoed, skryfbehoeftes, rooibostee en ’n handgeskrewe briefie van ’n AfriForum-personeellid, is op 30 en 31 Oktober aan behoeftige kinders uitgedeel. Van die items en bokse wat vir dié projek gebruik is, is aan AfriForum geskenk. Die items is boonop so gekies om ’n positiewe bydrae in die lewe van die jong ontvangers daarvan te maak.
“Om te sien watter groot impak hierdie personeelprojek op die kinders se dag gehad het, was hartroerend. Ek hoop dat elke kind wat sy of haar persoonlike briefie van hoop saam met die boks vol bederf ontvang het, sal die boodskap ter harte neem en vashou aan daardie stukkie hoop,” sê Minique Valverde-Scott, AfriForum se hoof van projekte.
AfriForum bedank die volgende instansies en persone wat hul hart oopgemaak het en tot die projek bygedra het: Shoprite Checkers, Carmién, Splassh, Virseker, Jaco Jacobs, Living Promotions, Wiggly teeth, West Rand Box, Willards en AfriForum se personeel.