AfriForum kom vir tweede keer voor dooiemansdeur by J.B. Marks Munisipaliteit
Vir die tweede keer in een week het lede van die AfriForum-tak in Potchefstroom voor dooiemansdeur te staan gekom toe hulle by die bestuurder van die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit se kantoor aangeklop het. Dié AfriForum-tak het ’n vergadering met Kgomotso Kumbe gereël om belangrike diensleweringskwessies te bespreek, maar hy het Woensdag vir die tweede keer versuim om, sonder verskoning, hiervoor op te daag.
“Daar is dringende diensleweringskwessies wat die gemeenskap negatief beïnvloed wat op die agenda was, waaronder die pompstasie in Chris Hanistraat wat nie na behore werk nie en nou rou riool in die veld en in die Mooirivier stort,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier-streek.
Die tak was boonop van plan om uitgebreide besprekings oor ’n reeks probleme te hou, soos die menigte straatligte wat buitewerking is. AfriForum het reeds ’n omvattende oudit oor die gebreekte straatligte aan die munisipaliteit voorsien. Die voortdurende voorkoms van slaggate is ook een van die belangrike kwessies wat bespreek sou word, asook die feit dat daar gedurig ’n deel van Potchefstroom sonder water sit.
Die tak wou ook weet wat die stand van sake is met die vredesbeamptes, wat veronderstel is om wet en orde in die stad te handhaaf, maar eerder skitter in hul afwesigheid. Die tak wou ook aanvra dat verkeerstekens by die ingang van die Potchefstroom Buiteklub opgerig word omdat dit ’n gevaarlike kruising is waar daar gereeld ongelukke plaasvind.
“Dis werklik ’n klap in die gesig om herhaaldelik, sonder ’n verskoning, nie ’n afspraak met ’n belangrike agenda na te kom nie. AfriForum voer gereeld die stryd teen swak dienslewering, maar die burgerregteorganisasie wil ook hande vat met die munisipaliteit om te help bou aan die stad waarvoor talle mense omgee en vir lief is,” sê Pretorius.
Die tak wou nie net al hierdie probleme geopper het nie, maar ook die munisipaliteit bedank het vir die werk wat reeds gedoen is om Potchefstroom te verbeter. Die munisipaliteit het onlangs die verkeerslig op die hoek van Chris Hani- en Nelson Mandelastraat herstel en reeds skouer aan die wiel gesit om die vullisterrein en oorlaaistasie in ’n beter toestand te kry.
“AfriForum se Potchefstroom-tak sal egter nie deur hierdie behandeling afgeskrik word nie. Dié tak sal self na Potchefstroom omsien en met elke inwoner se inkoop, dit verbeter,” sluit Pretorius af.
Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag betrokke. Kontak Cornelia Blignaut, by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit en Leandra Rootman, by 073 886 3520 om by die tak betrokke te raak.