Mediumtermynbegrotingsraamwerk beklemtoon onuitvoerbaarheid van BELA – AfriForum
In reaksie op die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat gister deur die minister van Finansies, Enoch Godongwana gelewer is, het AfriForum verklaar dat dit opnuut die finansiële onuitvoerbaarheid en onwenslikheid van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (die Bela-wet) beklemtoon.
In aanloop tot sy lewering van die MTBR-rede, het Godongwana genoem dat geen aanvullende bedrae vir onderwys bewillig sal word nie, aangesien hy die begrotingstekorte van departemente as ’n selfgeskepte krisis beskou. Hy het ook na vorige kere verwys waar aanvullende fondse vir onderwys bewillig is en het vrae oor die spandering daarvan gestel.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, skep dit kommer oor die groot aantal onderwysers wat provinsies uit diens sal moet stel omdat daar nie meer fondse vir hulle salarisse beskikbaar sal wees nie. Tot dusver het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement baie openlik oor die krisis gekommunikeer, terwyl die ander agt provinsies in die land beslis dieselfde uitdagings in die gesig staar, maar nog nie tot dieselfde mate daaroor berig het nie.
Van die moontlike oplossings sal wees om nie die dienste van onderwysers wat tydelike kontrakte het, te hernu nie, of om dienste soos leesprogramme en vervoer vir leerlinge te beëindig.
“Hierdie moontlike planne om te bespaar, gaan gehalte onderrig duur kos, en des te meer indien Bela se bepalings geïmplementeer word,” meen Bailey. “Minder onderwysers beteken groter klasse en minder aandag per leerder, wat kwessies soos leerders se onvermoë om met begrip te lees, nog meer sal vererger. As skoolbywoning boonop van Graad R af verplig sal word, is meer onderwysers en infrastruktuur nodig, waarvoor daar duidelik nie in die nabye toekoms fondse sal wees nie. Die koste van Bela sal met die toekoms van ons kinders betaal word.”
Bailey meen dit is tyd dat die nasionale en provinsiale onderwysdepartement se begrotings en spandering opnuut fyn bestudeer word, dat amptenare wat vir vermorsing verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word en die inwerkingstelling van die swak Bela-wet teruggehou word.
AfriForum en ander lede van die Solidariteit Beweging berei tans voor vir ’n protesoptog teen die Bela-wet se bepalings oor skole se toelatings- en taalbeleide. Die optog sal op Dinsdag 5 November 2024 by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasvind. Lede van die publiek word aangemoedig om by www.belaprotes.co.za te registreer om daaraan deel te neem. Alle inligting oor die optog is ook op dié webblad beskikbaar.