|

AfriForum-tak dra by tot groener Stellenbosch

AfriForum se Stellenbosch-tak het die afgelope naweek ’n boom aan ’n park in Onder Papegaaiberg, Stellenbosch geskenk én dit help plant. As deel van boomplantmaand, wat jaarliks in September gevier word, het AfriForum landwyd gepoog om die toekoms vir die volgende generasie te verseker.

Dié tak het besluit om ’n waterbessieboom te plant, spesifiek oor die hoë watertafel in die area wat veroorsaak dat sommige van die ander bome verdrink. Sou die gebied egter minder reënval ontvang, sal hierdie boom steeds ’n droogte kan oorleef.

AfriForum vertrou dat die boom goed verder deur die Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit, wat ook na die ander bome in die park omsien, versorg sal word. AfriForum is daartoe verbind om in die toekoms soortgelyke projekte saam met die munisipaliteit aan te pak.

“Die Stellenbosch-tak wil die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by die tak sodat hy gereeld projekte soos dié kan aanpak en kan voortgaan om te bou en verbeter aan die gemeenskap. AfriForum wil ’n kultuur van selfdoen onder gemeenskappe kweek en dit sal slegs met gemeenskapsbetrokkenheid verwesenlik word,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum se Stellenbosch-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings