|

#OnsDorpOnsVeiligheid: AfriForum-plaaswag slaan toe op 10 onwettige Mosambiekers

AfriForum se Pietersburg-Suid-plaaswag het op 23 Oktober ’n beduidende rol gespeel in die arrestasie van 10 onwettige Mosambiekse burgers tydens ’n klopjag op die plaas Wildebeestfontein 20KS, suid van Polokwane. Dié verdagtes kan moontlik verbind word met onlangse voorvalle van koperdiefstal op die plaas. Hulle was ook moontlik betrokke by die aanranding van twee plaaswerkers tydens ’n ander voorval in September.

Die klopjag is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Departement van Binnelandse Sake en die plaaslike polisie uitgevoer nadat AfriForum die SAPD ingelig het oor waar die verdagtes woon. Dit volg nadat drie plaaswerkers op 22 Oktober spore vanaf Wildebeestfontein 20KS gevolg het tot by die huis waar die Mosambiekers die volgende dag gearresteer is. Twee van dié plaaswerkers het van die mense in die huis herken as die mans wat hulle in September aangeval het. Hulle het hierdie inligting deurgegee aan die eienaar van die plaas waar hulle werk, wat gevolglik die AfriForum-plaaswag van die nuutste verwikkelinge ingelig het.

Johann Claassens, voorsitter van AfriForum se Pietersburg-Suid-plaaswag, het die SAPD daarvan laat weet waarna die klopjag met die nodige rolspelers beplan en suksesvol uitgevoer is.

“Hierdie operasie is ’n bewys daarvan dat AfriForum-strukture nie onderskat moet word nie en beslis ’n belangrike rol speel in ’n gemeenskap. Samewerking met die SAPD en ander rolspelers is ook van onskatbare waarde om ’n gemeenskap te beveilig. Dankie aan elkeen wat bygedra het tot hierdie groot sukses,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder in Limpopo.

Soortgelyke plasings