AfriForum stem in om met Tshwane Metro te vergader oor samewerkingsooreenkoms; kondig môre standpunt aan tydens reuse-opknappingsprojek
AfriForum het vandag bevestig dat die nuwe burgemeester van die Tshwane Metro, Nasiphi Moya, se versoek om samesprekings oor die organisasie se samewerkingsooreenkoms met die munisipaliteit, aanvaar is. AfriForum sal môre (Dinsdag 29 Oktober), ter voorbereiding van die samesprekings met die munisipaliteit, sy amptelike standpunt rakende dié ooreenkoms uiteensit by ’n reuseslaggatprojek waartydens meer as 22 ton teer in die herstel van paaie in Monumentpark ingespan sal word.
Moya het Vrydag ’n amptelike uitnodiging aan AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, gerig en versoek dat ’n konstruktiewe gesprek oor AfriForum se samewerkingsooreenkoms met die metro, wat in Maart vanjaar aangegaan is, gevoer word. Dié beoogde vergadering sal binnekort by AfriForum se hoofkantoor gehou word.
Luidens Moya se brief kom AfriForum se samewerkingsooreenkoms onder die loep aangesien kommer oor die inhoud en implementering van dié ooreenkoms bestaan. Sy het egter beklemtoon dat die metro AfriForum se bydrae tot dienslewering in die stad waardeer.
Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is AfriForum bereid en gereed om met die metro in gesprek te tree en die ooreenkoms te bespreek. Hy hou egter vol dat die burgerregteorganisasie, ongeag die uitkoms van hierdie gesprekke of selfs indien die ooreenkoms gekanselleer sou word, steeds sal voortgaan om gemeenskapsprojekte in dié munisipaliteit aan te pak.
“Ons vertrou dat die metro, soos beloof, gesprekke rakende die AfriForum se samewerkingsooreenkoms in die gees van samewerking en goedertrou sal aanpak,” benadruk Hemmens. “Die metro het Vrydag self bevestig dat derdepartye se betrokkenheid in dienslewering nie net vir die metro voordelig is nie, maar kritiek.”
Te midde van kritiek oor AfriForum se samewerkingsooreenkoms met die metro, gaan AfriForum se werk in die stad steeds onverpoosd voort. Werksaamhede van die organisasie se buurtspanne, wat bestaan uit voltydse werknemers en daagliks uiteenlopende probleme soos die herstel van slaggate en die instandhouding van groenstroke in die stad aanpak, brei steeds uit. AfriForum takel byvoorbeeld vandag en môre ’n slaggatprojek ten bedrae van meer as R108 000 waartydens sowat 22 ton teer gebruik sal word om slaggate te herstel.
“AfriForum se projekte is gemeenskapsgedrewe en is daarop gefokus om die gemeenskap te betrek om self ook aktief ’n bydrae te maak tot die verbetering, opknapping of herstel van infrastruktuur en terreine in die gemeenskappe waar hulle woon. Ons sal voortgaan om daar waar aktiewe AfriForum-gemeenskappe bestaan, te dien en toe te sien dat dienslewering geskied in gevalle waar die munisipaliteit dit nie kán of wíl doen nie,” verduidelik Hemmens.