AfriForum gaan voort met privaatwatertoetsing ná Stellenbosch Munisipaliteit toetsing en inligting weier
Stellenbosch Munisipaliteit se verbete pogings om feite oor die gehalte van water in dié munisipaliteit geheim te hou, sal binnekort iets van die verlede wees wanneer die resultate van privaat toetsing wat in opdrag van AfriForum gedoen word, vrygestel word. AfriForum het reeds ’n onafhanklike en geakkrediteerde laboratorium opdrag gegee om omvattende watertoetse te onderneem en onder meer gerugte van die storting van ongesuiwerde rioolwater in die Veldwagters- en Eersterivier te ondersoek. AfriForum sal die resultate van die verslag wat uit die bevindinge opgestel sal word, binnekort bekendmaak.
Dié stappe volg in reaksie op ’n jaar lange stryd om inligting oor Stellenbosch se watergehalte ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) van die munisipaliteit te bekom. AfriForum het reeds in Oktober 2023 sy PAIA-aansoek aan die munisipaliteit gerig nadat lede van dié burgerregteorganisasie gekla het oor die beweerde besoedeling van en rioolstorting in Stellenbosch se riviere. In die aansoek is onder meer inligting versoek oor die bestuur van die munisipale rioolwerke en die verslae rakende die gehalte van die water in die Eerste- en Veldwagtersrivier.
AfriForum het in daardie stadium ook self watermonsters geneem en ontledings by ’n plaaslike geakkrediteerde laboratorium laat doen wat gevaarlike vlakke van rioolbesoedeling bevestig het.
Die munisipaliteit het egter geweier om die inligting wat in die PAIA-aansoek versoek is, aan AfriForum beskikbaar te stel en aangevoer dat dié inligting vertroulik is en daarom nie vrygestel kan word nie. Dít ten spyte daarvan dat die munisipaliteit, nog voordat die PAIA-aansoek ingedien is, aangedui het dat hulle die nodige verslae aan die burgerregteorganisasie sou verskaf. AfriForum het daarna appèl aangeteken, maar dit is ook van die hand gewys.
Intussen het AfriForum ook die munisipaliteit in Augustus vanjaar in kennis gestel dat die burgerregteorganisasie watertoetse hier gaan onderneem en het die munisipaliteit se samewerking in dié verband gevra. Dié toetsing sou deel vorm van die organisasie se jaarlikse nasionale Blou-en-groendruppelprojek waardeur die gehalte van drink- en behandelde rioolwater by meer as 330 punte landwyd getoets word. Munisipaliteite word altyd vooraf ingelig van AfriForum se planne om toetse te doen en toestemming en samewerking daarvoor word aangevra.
Die munisipaliteit het ook dié versoek om samewerking van die hand gewys. Op 6 September is AfriForum in kennis gestel dat die munisipaliteit die water onafhanklik en intern toets en dat dit nie praktyk is om die resultate daarvan voor die publikasie van die Departement van Water en Sanitasie se eie Bloudruppel- en Groendruppelverslae beskikbaar te stel nie. Voorts is AfriForum in kennis gestel dat toegang tot die Stellenbosch-rioolaanleg slegs met toestemming van die kantoor van die munisipale bestuurder gegee sal word.
Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is die munisipaliteit se hantering van die potensieel gevaarlike situasie geweldig kommerwekkend. “Verskeie pogings om samewerking is afgewys. Versoeke vir inligting word onder die dekmantel van konfidensialiteit opsy geskuif, en intussen duur besoedeling waarskynlik steeds voort. Die Stellenbosch-gemeenskap is geregtig op die waarheid en gerusstelling dat watergehalte hier op standaard is,” benadruk Benade. “Deursigtigheid en eerlikheid van die munisipaliteit is noodsaaklik, maar in die afwesigheid daarvan sal AfriForum voortgaan om die gehalte te ondersoek en aan die hand van die onafhanklike studie verdere stappe te doen sou dit blyk dat die watergehalte ontoereikend is.”
Benade hou vol dat optimale watergehalte nie net noodsaaklik is vir inwoners se gesondheid nie, maar dat die streek se ekonomie – wat grootliks steun op die vrugte-, wyn- en toerismebedryf – daarvan afhanklik is.
AfriForum het intussen ook sy regspan opdrag gegee om verdere stappe te ondersoek wat gevolg kan word in reaksie op die munisipaliteit se weiering van inligting wat ingevolge die PAIA-proses aangevra is.