Afrikaners, Zoeloes en om voort te bestaan in geregtigheid
Koning Misuzulu kaZwelithini het op Vrydag 18 Oktober op uitnodiging van AfriForum die hoofrede gelewer tydens die herdenking van koning Dinuzulu KaCetshwayo se lewe en nalatenskap op die plaas Rietfontein buite Middelburg (Mpumalanga) waar koning Dinuzulu in 1913 oorlede is. Die verhaal van die Zoeloe-koning wat sy laaste jare op ’n plaas in die destydse Transvaal deurgebring het, is soos baie verhale uit ons verlede vol kompleksiteit en intrige.
’n Kommando Afrikaner-vrywilligers onder bevel van kommandant (later generaal) Lucas Meyer het die Usutho van koning Dinuzulu tydens die Slag van Spookberg (Tshaneni) digby die hedendaagse Mkhuze in die noordooste van KwaZulu-Natal bygestaan om die Mandlakazi van Inkosi (stamkoning) Zibhebu kaMaphitha wat deur Engelse raadgewers ondersteun is, beslissend te verslaan. Die jong Louis Botha was een van die vrywilligers in dié kommando, en ’n hegte vriendskap wat vir die res van hul lewens sou bestaan, het tussen generaal Botha en koning Dinuzulu ontstaan.
Koning Dinuzulu is ’n paar jaar later geïmpliseer in die belastingopstand van 1906 (ook bekend as die Bambatha-rebellie) in die destydse Kolonie van Natal, vervolg en opgesluit. Vier jaar later, tydens die eerste kabinetsvergadering van die Unie van Suid-Afrika, met generaal Botha as eerste minister, is die besluit geneem om koning Dinuzulu vry te laat en dit is op dieselfde dag gedoen.
Die koning is ná sy vrylating gevestig op die plaas Rietfontein, wat hy KwaThengisangaye gedoop het. (KwaThengisangaye kan vertaal word as “Die plek waar hy (uit)verkoop word.” – verwysend na diegene wat die koning geïmpliseer het in die 1906-opstand wat tot sy opsluiting gely het.) Die koning was in ballingskap in die Transvaal-provinsie, aangesien die Natal-provinsie nie daarvoor te vinde was dat die koning na sy eertydse koninkryk terugkeer nie.
Die vervlegte verhaal van die Afrikaners en Zoeloes begin egter nie hier nie, dit is ’n verhaal wat oor kort duskant 200 jaar strek. Die eerste kontak was die vreedsame onderhandelinge tussen Piet Uys en koning Dingane kaSenzangakhona tydens die Kommissietrek van 1834. Die gebeure van 1838 is welbekend: die onderhandelinge tussen koning Dingane en Piet Retief, die moord op die Retief-geselskap, die aanvalle by Bloukrans en Moordspruit, en natuurlik ook die Slag van Bloedrivier.
Wat ongelukkig minder bekend is, is die samewerking tussen die Voortrekkers en koning Mpande kaSenzangakhona, halfbroer van koning Shaka en koning Dingane in 1839 en daarna. Nadat pogings van die Republiek van Natalia se regering om kompensasie van koning Dingane te verkry misluk het, het ’n gekombineerde mag van Andries Pretorius en (toe nog) prins Mpande uitgetrek om koning Dingane aan te val. Die Afrikaners het uiteindelik voor ’n vol rivier vasgeval en prins Mpande se magte het dié van koning Dingane sonder bystand verslaan. Daarna, op 14 Februarie 1840, aan die voet van Ntabankuluberg (noord van Glückstadt, KwaZulu-Natal) is koning Mpande as koning oor die Zoeloes ingehuldig.
’n Mens sou baie bladsye kon skryf oor ander voorbeelde van goeie verhoudings en samewerking tussen die Afrikaners en Zoeloes en ook tussen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe – tot wedersydse voordeel van die kultuurgemeenskappe betrokke. AfriForum en die Zoeloe-koning is duidelik nie met iets nuut besig wanneer ons saamwerk nie.
Tydens sy toespraak het koning Misuzulu aangekondig dat hy ’n versoek van Afrikanerleiers aanvaar het om gesprek te voer. Hy het aangedui dat hy tydens gesprekke sal fokus op die landelike politieke ekonomie, gemeenskapsveiligheid, grondbestuur, kulturele uitruiling en ander gebiede van gedeelde belang. Hy het die hoop uitgespreek dat wat daaruit sal volg op ’n betekenisvolle manier tot voordeel van beide gemeenskappe sal strek.
AfriForum se poging om goeie verhoudings te bou en saam te werk met ander kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika is nie tot die Zoeloes beperk nie en word reeds sedert 2018, tydens die koningskap van koning Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu, gedoen. Daar is reeds wedersydse samewerking-en-erkenningsooreenkomste gesluit met die AmaBhele kaJamangile (Tsolo, Oos-Kaap), die Barolong Boo Seleka (Thaba’Nchu, Vrystaat), die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi (Disaneng, Noordwes), Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO, van KwaMhlanga, Mpumalanga) en die Royal Leaders of South Africa (ROLESA). Gesamentlike projekte fokus tans op twee terreine. Eerstens is daar landbouontwikkelingsprojekte in samewerking met die familieboernetwerk Saai om voedselsekerheid en selfversorgendheid te verbeter en om kommunale kleinboere die geleentheid te bied om te ontwikkel deur modernisering, meganisering en kommersialisering van hul bestaande boerderye. Tweedens is daar projekte wat fokus op gedeelde geskiedenis, erfenis en kulturele identiteit – want ’n gesonde kulturele selfbeeld is noodsaaklik vir die monstering van energie en motivering om self verantwoordelikheid te neem vir die talle uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar. Dié ooreenkomste behels ook dat die onderskeie partye erkenning gee en saamwerk om moedertaalonderrig te bevorder. Dit is veral belangrik gegewe die huidige stryd teen die Bela-wet se aanslag op moedertaalonderrig.
Die ooglopende voordeel van die goeie verhoudings, samewerking en wedersydse erkenning en respek vir AfriForum en Afrikaners in die breë is dat dit moeilik is om Afrikaners valslik as rassiste of regses te etiketteer en daardeur te isoleer, soos wat Panyaza Lesufi en diegene wat soos hy dink probeer doen. Hierdie soort isolasie is vir Afrikaners ’n risiko wat vermy moet word. Ons is baie deursigtig oor die voordeel wat Afrikaners uit die samewerking kry. Elke gemeenskap wat kies om met AfriForum saam te werk, doen dit ook uit eie beweging ná die opweging van potensiële voordele en nadele.
Die rede waarom AfriForum besig is om hierdie netwerk van gemeenskappe te bou wat mekaar kan ondersteun en kan saamwerk oor sake van gedeelde en spesifieke belang, lĂŞ egter dieper.
N.P. van Wyk Louw skryf in Kultuur in Krisis:
“Gestel dat ’n volk “tussen die engtes” ingekom het – vind dat hy hom op lewe en dood moet verdedig –; hy span alle stoflike en politieke kragte in, behoed en brei sy geestelike, tegniese, intellektuele besit uit, doen alles wat hy kan, om te bly voortbestaan … Dan kom hy voor die laaste versoeking: om te glo dat blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid. … belangriker is dit om te sĂŞ dat daar seker geen volk is wat nie op een of ander tyd so gesondig het nie; en belangrikste van alles is dit om te weet dat die versoeking die bestendige versoeking is wat vir elke volk in die woestyndae inwag – dat dit die grootste, die byna mistieke krisis is waarvoor ’n volk te staan kan kom. Ek glo dat op ’n vreemde manier dit die krisis is waaruit ’n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie “donker nag van die siel” waarin hy gesĂŞ het: Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.”
AfriForum bou goeie verhoudings en samewerking op die grondslag van wedersydse erkenning en respek omdat dit die regte ding is om te doen. AfriForum en Afrikaners in die breë kies om in geregtigheid voort te bestaan, ons kies vreedsame naasbestaan. Ons beleef dat die ander volke in die land, en veral die tradisionele leiers, ook dié keuse maak en 18 Oktober se gesamentlike vieringe is ’n mooi voorbeeld daarvan.
Die verlede kan nie verander word nie, maar ons kan wel daaruit leer – die toekoms lê in ons hande. Elke geslag kry opnuut die geleentheid om uit die verlede te leer, die werklikheid in die oë te staar, keuses te maak en op te tree. Ons geslag het ons eie geleentheid om oplossings te vind vir die historiese vraagstuk van vreedsame naasbestaan van al die volke in die land.
Daar het ’n nuwe geslag opgestaan wat werk om vertroue te bou en herbou. Dit is ’n skeppende, lewenskragtige geslag wat met nederige vasberadenheid die moeilike gesprekke voer wat nodig is om egte versoening tussen volke te bewerkstellig. Om bloot voort te bestaan, om te oorleef, is nie vir dié geslag goed genoeg of waarvoor daar gewerk word nie – daar word gewerk om voort te bestaan in geregtigheid, om voluit te leef.
Ons glo aan en werk onbeskaamd vir ’n toekoms vir ons eie kinders, maar ook vir die kinders van alle kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika – getrou aan wie ons is, in geloof en in geregtigheid.
*Barend Uys is hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum. Hierdie berig het oorspronklik in Rapport verskyn.