AfriForum eis antwoorde van Oudtshoorn-munisipaliteit oor “aangepaste” riooltariewe
AfriForum eis antwoorde van die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit oor waarom die munisipaliteit se aangepaste riooltariewe-beleid geen werklike verandering bevat nie. Hierdie veranderinge voldoen nie aan ’n 2022-hofbevel wat AfriForum bekom het, wat die munisipaliteit versoek om dié beleid te verander nie.
Dit volg nadat AfriForum en die Oudtshoorn-munisipaliteit sedert 2021 in ’n uitgerekte hofstryd gewikkel is oor die omstrede riooltariewe wat die munisipaliteit per toilet bereken. Volgens AfriForum, plaas dit geweldige druk op byvoorbeeld ’n pensioenarispaartjie wat drie toilette in hul huis het. Hoewel hulle baie minder water gebruik as ’n huisgesin van ses mense met net een toilet, betaal hulle nou meer omdat daar meer toilette in hul huis is.
AfriForum stel voor dat die tariewe op grond van waterverbruik per huishouding bereken word in plaas van per toilet. Artikel 74(2)(b) van die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000) bepaal ook dat die bedrag wat individuele verbruikers vir munisipale dienste moet betaal, bepaal moet word aan die hand van die gebruik van sulke dienste.
AfriForum het in 2022 ’n hofbevel in hul guns bekom, maar die munisipaliteit het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien en versoek dat die hofbevel tersyde gestel word. Die munisipaliteit se versoek om die hofbevel ter syde te stel, is met kostes van die hand gewys. In 2024 het die munisipaliteit sy aansoek om verlof tot appèl teruggetrek en aangevoer dat hy intussen ’n nuwe beleid geïmplementeer het. Die beleid is egter nie genoegsaam aangepas om gehoor te gee aan die hofbevel nie, daarom het Hurter Spies op 22 Oktober ’n dringende skrywe namens AfriForum aan die munisipaliteit gerig om antwoorde hieroor te eis. Indien die munisipaliteit nie teen 31 Oktober op die versoek reageer nie, sal verdere stappe oorweeg word.
“Ons sal aanhou om in die belang van ons gemeenskappe op te tree. Ons sal nie van stryk gebring word deur uitgerekte regsgeskille nie. Terwyl ons veg vir dit wat reg is, bou ons elke dag doelgerig aan ’n beter gemeenskap,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum se Oudtshoorn-tak moedig die gemeenskap aan om by hulle betrokke te raak. Die tak het reeds vanjaar onder meer ’n suksesvolle teerprojek van stapel gestuur en het alle hulp nodig om nog meer te doen. Sluit vandag nog aan en maak ’n positiewe bydrae in jou gemeenskap. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.