|

AfriForum se Westonaria-tak maak reuseskenking aan sukkelende munisipaliteit

AfriForum se Westonaria-tak het oor die afgelope paar dae ’n reuseskenking aan die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit gemaak om infrastruktuur in die gebied op te knap. Die eerste skenking is op 18 Oktober gemaak en bestaan uit talle koper krimphulse (ferrules) wat gebruik word om kragkabels te las. Die tak het enkele dae later, op 22 Oktober, ook 340 sakke teer aan die munisipaliteit oorhandig.

Al die krimphulse beloop duisende rand, maar Esther Swart, voorsitter van AfriForum se Westonaria-tak, sê dis ’n klein bydra wat sal help verseker dat die inwoners van Westonaria betroubare kragtoevoer het.

“Die tak het besluit om hierdie skenking te maak, aangesien die munisipaliteit gereeld moet spook om met min tot geen hulpbronne die gemeenskap te dien wanneer kragonderbrekings plaasvind. Hierdie skenking is maar ’n druppel in die emmer van wat benodig word om die krag konstant in Westonaria aan te hou,” voeg Swart by.

Vroeër vandeesweek het die tak ook die munisipaliteit bygestaan deur meer as 300 sakke teer te skenk. Die skenking gaan gebruik word om die R559 tussen Venterspos en Randfontein te herstel. Die pad tussen Venterspos en Westonaria is ’n ruk terug gesluit weens sinkgate op die pad. Sedertdien moes die gemeenskap van Venterspos Randfontein om ry om Westonaria te bereik.  

AfriForum is daartoe verbind om munisipaliteite soos die een wat Westonaria bedien, by te staan om die omgewing en paaie in stand te hou. “As hierdie dorp se AfriForum-tak sal ons alles in ons vermoë doen om die bystand te lewer wat die munisipaliteit so dringend benodig. Saam kan ons ’n daadwerklik verskil in die gemeenskap maak,” sê sy.

Besoek www.wordlid.co.za om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings