|

R25 000 se boetes in Mooirivier uitgereik tydens nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in die Mooirivier het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 18 Oktober in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 01:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 206 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 4 320 km in 142 voertuie afgelê. Daar het ook 44 persone van ander instansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye deelgeneem. Die buurtwagte wat deelgeneem het, was Bothaville, Sasolburg, Songloed, Hartbeesfontein, Potchefstroom en Stilfontein, asook die Hartbeesfontein-plaaswag.

Min ernstige voorvalle in die streek aangemeld wat moontlik toegeskryf kan word aan die buurtwagte se hoë sigbaarheid. In Hartbeesfontein het die buurtwag ’n padblokkade saam met die Matlosana-verkeersdepartement gehou waartydens R25 000 se boetes uitgereik is vir onder meer dronkbestuur, onpadwaardige voertuie en roekelose en nalatige bestuur.

“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die nasionale patrollie deel te neem. Ek bedank ook elke patrolleerder wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hulle onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings