|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek nog ’n groot sukses behaal. Dié burgerregteorganisasie is ook vasbeslote om ’n stokkie voor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) te steek en beplan ’n reuseoptog op 5 November om druk op die regering te plaas om Afrikaanse skole uit te los.

Die voormalige Clover-werknemers Mohale Shokane en Vusumuzi Duumba is vandeesweek in die Johannesburgse Hooggeregshof lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die brutale moorde op die sekuriteitswagte Terence Tegg en JJ Cassanga. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Michelle Bebbington, Tegg se verloofde, en die Cassanga-familie verteenwoordig.

Michelle Bebbington, verloofde van Terence Tegg

AfriForum Jeug het ’n reusesakrekenaar aan Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se kantoor oorhandig om die boodskap duidelik by hom tuis te bring dat hy soos beloof moet toesien dat meer skole in Gauteng gebou word eerder as wat Afrikaanse skole geteiken word met verengelsing. AfriForum en ander lede van die Solidariteit Beweging gaan ook die protesoptog aanpak om druk op pres. Cyril Ramaphosa te plaas om die Bela-wet te laat vaar. Die publiek word aangemoedig om by dié optog aan te sluit.

AfriForum Jeug oorhandig ’n reusesakrekenaar aan Phumelele Mqina and Mxolisi Xayiya van die kantoor van Panyaza Lesufi, premier van Gauteng

Die Tshwane Metropolisie het AfriForum se buurtspan in Centurion ’n boete opgelê ná dié span talle boomtakke wat die metro maande gelede afgesny het, maar nooit verwyder het nie, opgeruim het. ’n Voetganger wat onlangs om die takke moes loop is deur ’n motor gestamp en was gelukkig nie ernstig beseer nie. Ondanks die terugslag, is dié tak vasbeslote om hulle goeie werk voort te sit.

AfriForum en Saai het tien ton voer aan boere in die Kenhardt-omgewing in die Noord-Kaap afgelewer om hulle te help met die voortslepende droogte in die area. ’n Noodfonds is ook op die been gebring om hierdie boere verder te help. Besoek www.afriforum.co.za om ’n bydrae tot hierdie fonds te maak.

Werner Strauss, AfriForum se dirstrikskoordineerder vir die Kalahari, en Chris van Beljon van Bring Hoop SA

Dit het onlangs aan die lig gekom dat staatsdepartemente nagenoeg R35 miljoen in agterstallige TV-lisensiefooie skuld. AfriForum meen dis ’n verdere bewys dat TV-lisensies geskrap moet word. Wanbetaling oor die algemeen het sedert 2018 van 72% tot amper 86% in 2023 toegeneem. Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, sê dis duidelik dat die SAUK vasklou aan sy mislukte operasionele- en finansieringsmodel.

AfriForum het na Rand Water uitgereik om te help om ’n moontlik “Dag Zero” in Gauteng af te weer. Dié burgerregteorganisasie het voorts ’n versoek aan Rand Water gerig om ’n Platform for a Water Secure Gauteng (PWSG) op die been te bring, wat die onderskeie rolspelers in staat sal stel om met mekaar te kommunikeer en watersekuriteit te verbeter. Swak waterbestuur en watervermorsing op munisipale vlak wat veral waterlekkasies betref is tans een van die grootste bedreigings vir watersekuriteit. AfriForum kan met die organisasie se kundigheid ’n groot bydrae lewer om Dag Zero af te weer.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake

Dit het ook aan die lig gekom dat die Gautengse Departement van Gemeenskapsveiligheid bykans R10 miljoen spandeer het om 124 pistole aan te koop. Dié buitensporige besteding kom volgens AfriForum neer op nagenoeg R78 000 per pistool – minstens drie keer die prys van ’n pistool waarmee wetstoepassers oor die algemeen toegerus word. AfriForum het in reaksie op dié inligting ’n aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die departement gerig om duidelikheid oor dié tender te bekom.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder

AfriForum se brandspan, in samewerking met verskeie ander rolspelers, het ’n deurslaggewende rol gespeel om ’n verwoestende brand in die Kosmos-woongebied in Hartbeespoort te blus. Die brand het ontstaan nadat ’n hoop tuinvullis vermoedelik aan die brand gesteek is en uiteindelik agt grasdakhuise vernietig het. AfriForum se brandspan was binne ’n halfuur op die toneel en die brand is ure geblus.

AfriForum se brandspan het gehelp om ’n brand in die Kosmos-woongebied in Hartbeespoort te blus

Soortgelyke plasings