|

AfriForum-buurtwag hou valkoog oor Bellville

AfriForum se Bellville-buurtwag het vandeesmaand sy patrollies verskerp deur nou ’n minimum van vier voertuie op die pad te hê wat die omgewing, waar veral dwelmhandel, onwettige immigrante en prostitusie hoogty vier, saans patrolleer. In Oktober is al ongeveer 1 200 km tydens dié patrollies in voertuie afgelê.

Sedertdien is ’n aantal suksesse bereik, waaronder twee huisbrake wat gefnuik is danksy AfriForum-buurtwaglede se spoedige optrede. In ’n ander voorval het die buurtwag ’n deurslaggewende rol gespeel in die arrestasie van vier vermeende huisrowers. Die buurtwag het inligting oor die verdagtes se doen en late aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deurgegee waarna hulle in hegtenis geneem is. Verder het die aantal kwaaddoeners op straat ook afgeneem vandat AfriForum meer gereeld patrollies ry.

Sedert die begin van hierdie maand is daar ook al ’n aantal mense van die straat verwyder en versoek om blyplek by Safe Space, ’n fasiliteit vir hawelose mense, te kry.

Die Bellville-buurtwag onderhou ook ses parke in die omgewing – Kingsmeadlaan-park, De Jongh-park (in Postmastraat), Mareestraat-park, Herbertpark (in Canterburystraat) en Calvynpark (in Meathstraat). Hierdie ses parke beslaan altesaam 95 000 vierkante meter. Die buurtwag verwyder weekliks twee bakkievragte se rommel – oftewel tussen 30 en 40 swartsakke – van dié parke, asook hordes kartonbokse waarop die haweloses slaap. Daar is veral ’n ernstige probleem met spuitnaalde vir vermoedelik dwelmgebruik wat in parke – asook op skoolterreine en kerkpersele – gevind word. Die buurtwag het onlangs op ’n klomp gebruike spuitnaalde afgekom wat ingedien is vir vernietiging.

Die AfriForum-buurtwag bedank die gemeenskap wat hul oë en ore is en hulle inlig van enige verdagte optrede.

“Daar is vele uitdagings in hierdie omgewing, maar ek is trots op dit wat die buurtwaglede tot dusver vermag het. Hulle sal voortgaan om die omgewing ’n veilige plek vir die gemeenskap te maak, veral vir die kinders wat hier grootword en in die parke speel,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.

“Die buurtwag fokus nou daarop om voort te bou op dié suksesse met die feesseisoen wat om die draai is. Hulle is tans in gesprekke met die SAPD om planne te beraam vir hoe hulle hierdie tydperk, veral met huisbrake wat dan drasties toeneem, gaan aanpak.”

Soortgelyke plasings