|

#OnsDorpOnsVeiligheid: AfriForum-buurtwag ry Bethlehem plat om buurte te beveilig

Die AfriForum-buurtwag in Betlehem het die afgelope naweek sowat 200 km in een aand afgelê om die dorp se inwoners teen boosdoeners te beskerm. Altesaam 12 buurtwaglede het Vrydag (18 Oktober) aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem en saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsrolspelers ’n twee uur lange padblokkade beman.

Die buurtwag het eers sy aandag op Wesselspark en Loch Athlone toegespits en deeglike patrollies in die buurte gery. Dié gebiede is brandpunte vir geweld, maar ook berug daarvoor dat dit saamkomplekke is vir mense wat drank en dwelms misbruik. In samewerking met die SAPD het die AfriForum-buurtwag verskeie waarskuwings aan persone uitgereik wat in die openbaar alkohol drink en dwelms gebruik.

In ’n poging om polisiëring in die gebied te verbeter het die buurtwag, die SAPD en Silent Nite-veiligheidsdienste dieselfde aand nog padblokkades by die kruising van Hospitaalstraat en Sechaba-winkelsentrum gehou. Altesaam 30 lede het hieraan deelgeneem en daarop gefokus om dronkbestuurders vas te trek. Nagenoeg 60 motors is tydens die padblokkade voorgekeer en deursoek. Verskeie boetes is uitgereik aan motoriste met ongelisensieerde voertuie of vervalde lisensies. Geen inhegtenisnemings is tydens die padblokkade gemaak nie.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Bethlehem-buurtwag sal voortgaan om gereelde patrollies in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsrolspelers te doen om misdaad te bekamp,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se Bethlehem-tak is daartoe verbind om die gemeenskap te bemagtig om hulself en hul gesinne te verdedig, sou dit nodig wees. Inwoners wat deel wil word van AfriForum se buurtwag in Bethlehem word met die nodige opleiding voorsien en deeglik toegerus om die gemeenskap te beskerm. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by dié AfriForum-tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in Bethlehem te maak.

Soortgelyke plasings