|

Randstene, verkeerseilande op Edenvale-paaie spiekeries ná nuwe verflaag

Die AfriForum-tak in Edenvale het al 50 liter verf gebruik om die randstene en verkeerseilande in dié Oos-Randse stad oor te verf en wag tans op hul bestelling vir nóg verf. Die tak is volstoom aan die gang met hierdie projek wat amptelik in Augustus afgeskop het, hoewel daar al in Julie begin is om verkeerseilande op te knap. Die doel van die projek is om randstene en verkeerseilande wat agterweë gebly het, op te kikker. Sedertdien het die tak op verskeie geleenthede die strate van die middestad ingevaar om dit weer na ’n nuwe sikspens te laat lyk.

Meer onlangs is randstene op die hoek van Terrace- en Andries Pretorius-weg én op die hoek van Van Riebeecklaan en Hendrik Potgieterstraat oorgeverf. Die randstene by die kruising van Van Riebeecklaan en Horwoodstraat is geverf tot by die kruising van Van Riebeecklaan en Vierdestraat. Die kruisings in dié gedeelte van die pad is ook netjies skoongemaak.

Terwyl die AfriForum-tak randstene geverf het, het hulle ook slaggate – groot én klein – in Edendaleweg en Paulrylaan in Eden Glen herstel.

“Bietjie vir bietjie bring die AfriForum-tak lewe terug na Edenvale se paaie. Elke klein aksie bring reuse-transformasie tot ’n omgewing en skep hoop vir die gemeenskap,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die taklede wat hierdie projek aanpak, het ’n ware passie vir hul dorp.”

Soortgelyke plasings