|

Kroonstad-tak doen stappe teen munisipaliteit oor riool in strate

Die inwoners van Kroonstad is raadop oor die ernstige rioolprobleme op die dorp en ná talle onbeantwoorde skrywes aan die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit gaan AfriForum nou verdere stappe doen. AfriForum se Kroonstad-tak is vandeesweek genoodsaak om regstappe teen Moqhaka se munisipale bestuurder te doen nadat daar reeds vir maande lank riool deur die strate vloei en geen daadwerklike stappe gedoen word om die probleem te pak nie.

“Die voortdurende versuim van die munisipaliteit om gehoor te gee aan die burgerregteorganisasie se versoeke om die rioolprobleme die hoof te bied, plaas die gesondheid en veiligheid van Kroonstad se inwoners in gevaar,” sê Christa Ikking, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Gevolglik beplan AfriForum om vandeesweek strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder aanhangig te maak. Die klagtes hou verband met die munisipaliteit se nienakoming van onder meer die Wet op Waterdienste en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

AfriForum het reeds in September ’n formele skrywe aan die provinsiale regering gestuur oor die haglike omstandighede waarin die inwoners van Kroonstad moet leef. Benewens dat daar onbehandelde riool in riviere gestort word, word woongebiede ook gereeld met riool oorstroom weens die gebrekkige bestuur en instandhouding van rioolpompe en -aanlegte.

“Dis skokkend dat selfs die provinsiale regering nog geen terugvoer hieroor verskaf het nie. Weens die dringendheid van die situasie doen AfriForum nou regstappe sodat die munisipaliteit verplig word om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom,” sê Ikking. “As ’n burgerregteorganisasie is dit AfriForum se plig om gemeenskappe te beskerm sodat hulle nie aan onnodige gesondheidsrisiko’s blootgestel word nie,” voeg sy by.

AfriForum sal voortgaan om druk op owerhede te plaas sodat hierdie kwessie met die nodige dringendheid hanteer word. AfriForum se Kroonstad-tak nooi inwoners uit om hul stemme te laat hoor oor die onverantwoordelike hantering van hierdie probleem. Besoek www.wordlid.co.za om by Kroonstad se AfriForum-tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings