| |

Senior amptenare van Onderwysdepartement wil Bela-gesprekke saboteer

AfriForum en Solidariteit beskuldig senior amptenare van die Nasionale Departement van Basiese Onderwys daarvan dat hulle minagtend optree teenoor president Cyril Ramaphosa se besluit om ’n geleentheid vir verdere beraadslaging oor die Bela-wet se taalklousules te skep en daarop uit is om gesprekke daaroor te saboteer.

Dié beskuldiging volg in reaksie op amptenare, insluitende die Onderwysdepartement se woordvoerder Elijah Mahlangu, wat hul eie politieke agenda probeer bevorder en onder meer wanvoorstellings teenoor die Sunday Times gemaak het rakende die inhoud van ’n vergadering wat AfriForum, Solidariteit en Saai op 1 Oktober met die adjunkminister van Basiese Onderwys, Reginah Mhaule, gehou het. Die vergadering met Mhaule is gehou in haar hoedanigheid as ANC-verteenwoordiger. Die Sunday Times het gister oor die betrokke amptenare se kommentaar berig.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit onvanpas dat staatsamptenare hulself die reg toeëien om hul politieke hoofde, soos die president, die minister en adjunk-minister van Onderwys, te omseil deur self tot die politieke debat oor Bela toe te tree en in die proses dieselfde anti-Afrikaanse sentimente as iemand soos Panyaza Lesufi ten toon te stel.

“Dié ideologies gedrewe optrede word vererger deurdat die amptenare selfs Afrikaanse organisasies se kommer, dat die polariserende impak van Bela ’n gesonde samewerkingsverhouding met die regering in gedrang kan bring, valslik voorhou as ’n dreigement om projekte in arm gemeenskappe te staak. AfriForum se ontwikkelingsprojekte teen armoede wat reeds saam met gemeenskappe soos die AmaBhele en Barolong Boo Seleka aangepak is, asook die voorgenome projekte saam met die Zoeloekoning, koning Misuzulu kaZwelithini, staan op geen wyse in verband met die dispuut wat tans met die regering oor die Bela-wet bestaan nie,” sê Kriel.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Onderwysamptenare se toetrede tot ’n politieke debat is niks nuuts nie. Die senior amptenare wat om onverklaarbare redes 1 Oktober se vergadering bygewoon het, het reeds tydens die vergadering gewys dat hulle nie oop is vir sinvolle gesprekvoering oor Bela nie. Een senior amptenaar, James Ndlebe, was openlik vyandig teenoor die Afrikaanse organisasies en het selfs gesê dat die implementering van die twee artikels wat vir verdere gesprekvoering uitgestel is, ’n voldwonge feit is.

“Solidariteit, AfriForum en ander rolspelers bly verbind tot die gespreksproses wat president Ramaphosa daargestel het, maar vir die proses om te slaag is dit nodig dat ideologies gedrewe staatsamptenare in die Onderwysdepartement hulle op geen wyse met die proses moet bemoei en dit probeer ontspoor nie,” voeg Hermann by.

Intussen gaan die Solidariteit Beweging, AfriForum, Solidariteit, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en talle ander Afrikaanse instellings voort met planne om op 5 November om 09:00 ’n protesoptog vanaf die Voortrekkermonument tot by Vryheidspark te hou. Groot getalle mense het reeds vir deelname daaraan geregistreer by www.belaprotes.co.za.

Verder het meer as 222 000 mense reeds AfriForum se petisie teen die Bela-wet by www.stopbela.co.za onderteken.

Soortgelyke plasings