|

AfriForum-buurtspan beboet ná hy nóg ’n ongeluk in Centurion probeer verhoed

AfriForum is voorverlede week ’n boete ten bedrae van R5 000 deur die Tshwane Metropolisie opgelê tydens ’n opruimingsaksie waarin talle boomtakke wat die metro maande gelede afgesny het, maar nie verwyder het nie, op ’n sypaadjie in Centurion opgeruim is. Die AfriForum-buurtspan, verbonde aan die burgerregteorganisasie se Centurion-tak, is vir onwettige storting beboet toe die span die afgesnyde takke in saagsels begin verwerk en dit aan inwoners beskikbaar gestel het.

Die AfriForum-buurtspan het vroeër vandeesmaand bewus geraak oor die moontlike gevare wat die boomtakke inhou toe die takke se teenwoordigheid amper tot ’n noodlottige ongeluk in Lyttelton gelei het. Nadat ’n voetganger, wat om die hoop takke moes loop, ten aanskoue van haar kinders deur ’n voertuig gestamp is, het die Centurion-tak dit op hom geneem om van die takke ontslae te raak.

“Die volgende voetganger sou dalk veel slegter daarvan afgekom het. Aangesien die metro versuim het om aandag daaraan te gee, was dit nodig vir die burgerregteorganisasie om self werk daarvan te maak om voetgangers en motoriste te beskerm,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Dié buurtspan het langs die pad die takke in saagsels verwerk en inwoners uitgenooi om dit gratis by die buurtspan af te haal. Min wetend dat dié pogings met minagting begroet sou word, het die AfriForum-tak voortgegaan met die opruimingsaksie. Die takke het daagliks ongeveer twee ton saagsels opgelewer en aan die einde van elke werksdag was al dié saagsels reeds deur lede van die publiek opgetel. Die AfriForum-tak het voorverlede week nog nie eers ’n vrag klaar verwerk nie toe tien metro polisielede die buurtspan genader en hul ’n boete vir onwettige storting opgelê het.

Ondanks die terugslag het die Centurion-tak voortgegaan om die gebied te beveilig deur van die takke ontslae te raak. Dié boomtakke word steeds in saagsels verwerk, maar word nou op versoek van inwoners hul huise afgelewer. Die takke word vir langer as sewe dae deur die buurtspan verwerk en 12 vragte is al afgelewer. Die Centurion-tak sal hiermee voorgaan totdat al die takke in die gebied verwerk is. Na raming sal AfriForum ná sowat 20 vragte van al die takke ontslae geraak het.

“Hierdie inisiatief sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van die inwoners nie. Die hoop is dat die aksie, selfs al is dit met teenstand begroet, die gemeenskap sal inspireer om by AfriForum betrokke te raak sodat hierdie buurtspan nóg probleme in Centurion kan aanpak,” sê Ungerer.

Die Centurion-tak wil nóg buurtspanne op die been bring om vir spesifieke dele van Centurion verantwoordelik te wees. Besoek www.wordlid.co.za om hierby betrokke te raak.

Soortgelyke plasings