|

Herdenkingsgeleentheid vir koning Dinuzulu lui formele gesprek oor samewerking tussen Zoeloes en Afrikaners in

Koning Misuzulu KaZwelithini het ’n herdenkingsgeleentheid wat AfriForum en die KwaZulu-Natal Amafa- en Navorsingsinstituut vandag vir die voormalige Zoeloekoning, koning Dinuzulu (1868-1913), op die plaas Rietfontein (KwaThengisangaye) buite Middelburg in Mpumalanga gehou het, as die begin van formele gesprekke oor samewerking met die Afrikanergemeenskap bestempel. Dié geleentheid is gehou op die plaas waar koning Dinuzulu op 18 Oktober 1913, vandag presies 111 jaar gelede, in ballingskap oorlede is.  

Tydens die herdenking is die geskiedenis van koning Dinuzulu en die goeie verhoudinge wat hy met Afrikaners gehad het, in herinnering geroep. Een van die merkwaardigste momente in dié verhouding was genl. Louis Botha, toenmalige eerste minister in die nuutgevormde unieregering, se bevel in 1910 om koning Dinuzulu uit die tronk op Newcastle vry te laat. Dit volg nadat die Natalse koloniale owerheid dié Zoeloe-koning tronkstraf opgelê ná die Bambata-rebellie van 1906. Ná sy vrylating is koning Dinuzulu toegelaat om op die plaas Rietfontein te vestig waar hy ook sy laaste jare deurgebring het. Hy was welbekend aan Botha omdat Botha as ’n jongman deel van die kommando van kmdt. Lucas Meijer was wat koning Dinuzulu bygestaan het tydens die oorwinning oor die Mandlakazi, ’n Zoeloe-faksie, tydens die Slag van Spookberg (Tshaneni) in 1884.

Koning Misuzulu het vandag benadruk dat die formele gesprekke met die Afrikanergemeenskap wat nou uit dié herdenkingsgeleentheid sal volg, daarop gemik sal wees om samewerking te bewerkstellig op elke terrein wat tot voordeel van dié twee gemeenskappe kan strek.

In sy toespraak het die koning onder meer beklemtoon dat die “historiese bondgenootskappe” wat tussen die Afrikaners en Zoeloes bestaan het, “’n herinnering is aan die kompleksiteite en nuanses van ons verlede”. “Die verhoudinge wat tussen koning Mpande, koning Dinuzulu en hul Boere-eweknieë bestaan het, herinner ons aan die ingewikkelde web van diplomasie en bestandheid wat ons geskiedenis gekenmerk het.”

Gesprekke tussen die Zoeloes en Afrikaners, sal volgens koning Misuzulu, onder meer fokus op kwessies soos die ekonomie, gemeenskapsveiligheid, grondbestuur en kultuuruitruiling en ander sake van gemeenskaplike belang.

Volgens Mwalela Cele, adjunkhoof van Navorsing en Innovasie by Amafa, is die KwaThengisangaye-terrein ’n bevestiging van die rol wat erfenis kan speel in die bevordering van vreedsame naasbestaan. “Die terrein en die geskiedenis en erfenis wat daarmee verbind word, bevestig dat daar meer is wat ons saambind as wat ons in hierdie pragtige land verdeel. Dit is vir Amafa baie belangrik dat terreine soos dié bewaar word en dat gedenktekens en -panele opgerig word sodat dit vir die komende geslagte bewaar kan word en sodat mense hul geskiedenis sal kan ken,” verduidelik Cele.

Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, het tydens die herdenkingsgeleentheid onder meer daarop gewys dat die huidige geslag ook, soos vorige geslagte, die verantwoordelikheid het om ’n toekoms vir die nageslag te verseker. Hy hou vol dat al die volke in die land groot uitdagings in die gesig staar, maar dat oplossings wink. “AfriForum glo dat al die kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek moet saamwerk oor sake wat vir ons belangrik is. Die historiese vraagstuk wat ons geslag moet oplos, is die vreedsame naasbestaan van al die volke wat die suidpunt van Afrika hul huis noem. Wat vandag hier gebeur, kan dien as ’n goeie begin om vreedsame naasbestaan te verseker. Ons is besig om vertroue te bou. Ons is besig om die moeilike gesprekke te hê wat nodig is om egte versoening tussen volke te bewerkstellig,” luidens Uys.

Hy het koning Misuzulu se positiewe reaksie op ’n versoek om ’n dialoog met die Afrikanergemeenskap, verwelkom. “Ons sien baie uit daarna om in gesprek te tree met die koning oor die kwessies wat ons onderskeie gemeenskappe raak en om met die koning saam te werk,” verduidelik Uys. “AfriForum en Afrikaners kies om in geregtigheid voort te bestaan. Ons kies wedersydse erkenning en respek. Ons kies vreedsame naasbestaan. Ons beleef dat die ander volke in die land, en veral die tradisionele leiers, ook dié keuse maak en vandag se vieringe was ’n uitsonderlike voorbeeld daarvan. Ons is ook baie dankbaar vir die groot voorreg dat koning Misuzulu hierdie geleentheid bygewoon het om as hoofspreker op te tree,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings