|

Blitsflits: Nóg ’n suksesvolle week agter die rug!

AfriForum het die afgelope week talle suksesse behaal. Daar is landwyd uiteenlopende herstelwerk in dorpe aangepak, bome is as deel van Boomplantmaand aangeplant, sukses is behaal in die hof en daar is ook op verskeie terreine na die veiligheid van inwoners en dorpe se kritieke bates omgesien. Intussen moedig AfriForum die publiek aan om op 5 November – as deel van ’n dag van protes teen die nuwe Bela-wet – aan ’n protesoptog by die Voortrekkermonument deel te neem en sodoende hul steun toe te sê vir die afskaffing van twee artikels in dié wet wat dreig om besluitnemingsmagte oor skole se taal- en toelatingsbeleide drasties in te perk.

Herstelwerk op Vryburg en Dullstroom

Slaggate word herstel in Dullstroom.

Op Vryburg het die plaaslike AfriForum-tak hierdie week 500 kg teer gebruik om minstens 20 slaggate in Springbokstraat te herstel en ook padmerkers voor die CVO-skool hier oor te verf. Dié projek, wat in samewerking met Herotel aangepak is, is ten bedrae van sowat R10 000 aangepak. Intussen het AfriForum se Dullstroom-tak in Mpumalanga ook hul bydrae tot hul dorp se paaie gemaak en 30 sakke teer aan nog ’n plaaslike opheffingsorganisasie Drive Dullstroom’s Destiny geskenk. Die opknapping van paaie in hierdie gewilde toeristedorp kry nou goeie momentum en sal padveiligheid hier ’n reusehupstoot gee.

Los ons skole uit!

Die omstrede Bela-wet bly steeds groot nuus in Suid-Afrika en terwyl talle Afrikaanse instellings, insluitende AfriForum en die res van die organisasies in die Solidariteit Beweging, regmaak vir ’n grootskaalse dag van protes wat op Dinsdag 5 November in Pretoria gaan plaasvind, bly die wet en die moontlike implementering van twee drakoniese artikels daarvan steeds op die lippe van die Afrikaanse gemeenskap.

AfriForum het vandeesweek onder meer gewys op ’n verslag van die Thabo Mbeki Stigting wat die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, se inmenging by Pretoria High School for Girls (PHSG) veroordeel. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen Chiloane en die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se inmenging in skole wys op hul smagting om “diktatoriale beheer oor skole” te neem en bevestig waarom Bela – wat “drakoniese magte” aan Lesufi en kie sal gee – teengestaan moet word.

Voorts het Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, op Internasionale Woordeboekdag wat op 16 Oktober gevier is, benadruk dat “wetgewing soos die omstrede Bela-wet wat die voortbestaan van moedertaalonderrig in ons skole bedreig en die oorheersing van een taal, naamlik Engels, tot gevolg kan hê” ten sterkste teengestaan moet word en dat geleenthede vir moedertaalonderrig beskerm word.

Veiligheid hier opgeknap

AfriForum-projekte ter bevordering van die beskerming van gemeenskappe en hul bates is hierdie week weer op verskeie plekke in Suid-Afrika voortgesit.

  • In die noorde van KwaZulu-Natal het 16 AfriForum-buurtwaglede pas hul gespesialiseerde buurtwagopleiding voltooi en vorm nou deel van die span van nagenoeg 230 protospanlede wat reeds opgelei is.
  • In Bloemfontein het die AfriForum Brandweer en die Wilgehof-buurtwag ’n brandende voertuig geblus wat op Sondag 13 Oktober, na aanleiding van ’n motorongeluk in Walter Sisulu-rylaan, in ligte laaie opgegaan het.
  • ’n Rower het op 15 Oktober sy rieme styfgeloop toe AfriForum se Vaalharts-tak hul hommeltuigeenheid ingespan het in ’n operasie wat tot die arrestasie van ’n vermeende gewapende rower gelei het.
  • In Pretoria het die Garsfontein-Faerie Glen- en die Moreletapark-tak ’n heining op die hoek van Garsfonteinweg en De Villabois Mareuil-rylaan opgerig om die veiligheid van motoriste hier te verbeter.
  • As deel van nog ’n veiligheidsprojek het die Vanderbijlpark-tak ’n heining opgerig om ’n plaaslike substasie teen vandale te beskerm.

Groen, groener, AfriForum!

Dit is lente en die projekte wat AfriForum-takke die afgelope week aangepak het, toon dat die koms van hierdie geliefde seisoen met mening gevier word in elke uithoek van die land.

In Swellendam het die plaaslike AfriForum-tak sitrusbome by ’n tehuis vir bejaardes aangeplant; die Paarl-tak het ’n bosvaderlandswilg en ander struike in ’n plaaslike tehuis vir persone met Alzheimersiekte en demensie se multisensoriese tuin aangeplant; en in Vredendal het die Matzikama-tak die Rosendalpark opgeknap en bome geplant.

AfriForum se werk in omgewingsake gaan egter oor veel meer as net die aanplant van bome en die opknapping van groenstroke. Die beskerming van waterhulpbronne is van kritieke belang in ’n land soos Suid-Afrika waar water ’n uiters skaars hulpbron is. Daarom het AfriForum se Upington-tak die afgelope week ’n waterlekkasie in dié Noord-Kaapse dorp, wat reeds meer as vier jaar lank steeds nie herstel is nie, reggemaak. AfriForum se rampbestuurspesialis, Tarien Cooks, het ook vandeesweek ’n beroep op inwoners van veral Pretoria, Johannesburg en Durban gedoen om water spaarsamig te gebruik en gewaarsku dat waterbeperkings dalk weens watertekorte op inwoners kan wag.

AfriForum het intussen ook Vrydag ’n beroep op die verwydering van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gedoen en voer aan dat sy versuim om beslissend op te tree in die provinsie se waterkrisis op ’n ramp afstuur.

Reg hét geskied

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die afgelope week ’n groot sukses in die Johannesburgse hooggeregshof behaal nadat twee voormalige Clover-werknemers, Mohale Shokane en Vusumuzi Duumba, skuldig bevind is aan die moord op twee sekuriteitswagte Terence Tegg en JJ Cassanga, wat in Februarie 2022 plaasgevind het.

Andrew Leask, Rockert Seckle, MicheleBebbington en Matthews Rampyapedi.

Op Klerksdorp het die AfriForum-tak en talle ander beswaarmakers ook vandeesweek sukses behaal toe die ontwikkelaar wat ’n aansoek gebring het om 4 702 erwe op die plaas Palmietfontein te ontwikkel, se aansoek misluk het. AfriForum het gewys op die potensiële gevare van die voorgestelde ontwikkeling, en hoewel dié ontwikkeling vir eers in sy spore gestuit is, benadruk dat inwoners waaksaam moet bly vir aansoeke van dié soort om te verseker dat dit op ’n verantwoordelike wyse gedoen word.

(Afrikaanse) musiek vir die ore

Op ’n heel ligter noot, die nuwe musiekblyspel, Die Afrikaner maak só, is nou reeds meer as drie weke lank op die planke by die AfriForum Teater in Pretoria. Liefhebbers van Afrikaans, Afrikaanse teater en musiek moet egter spring, want slegs ’n handjievol vertonings lê nog voor in dié speelvak. Besoek www.afriforumteater.co.za om jou kaartjie te bespreek.

Soortgelyke plasings