|

Klimrame, swaaie en glyplank in Upington-park lyk weer splinternuut

AfriForum se Upington-tak het vandeesweek die park by die Sentrum-kafee na sy volle glorie vir die gemeenskap – oud en jonk – herstel om die park weer te kan geniet.

Kragbokse, klimrame, swaaie en ’n glyplank – wat jare laas onderhou is – is afgeskuur en met olieverf oorgeverf. Die drie swaaie is ook herstel vir kinders om dit weer te kan gebruik. Die groen verf wat oor die lelike graffiti op die kragbokse geverf is, het die bokse sommer weer laat nuut lyk. Daar is ook bome gesnoei en vullis opgetel.

Verder is 25 meter van die hout heining om die park vervang, terwyl ander dele van die heining herstel en weer vasgemaak is. Dit is baie belangrik om die omheining in stand te hou want van die gemeenskapslede ry met hul voertuie die park in en drink alkohol uit die voertuig se kattebak uit. Voertuie en alkohol word nie in parke toegelaat nie.

Die park lok ook kwaaddoeners wat onder meer dwelms daar gebruik, terwyl die park eintlik vir kinders bedoel is om pret te hê.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, bedank die Upington-tak vir hul toegewydheid aan die gemeenskap om die omgewing op te knap.

Soortgelyke plasings