|

Vryburg-tak pak Springbokstraat by die horings

Die AfriForum-tak in Vryburg het op 15 Oktober Springbokstraat nuwe skop gegee as deel van die organisasie se #OnsDorpOnsVeiligheid-projek. Die tak het meer as 20 slaggate met 500 kg se teer in dié straat herstel, asook die padmerke van die vierrigtingstopstraat en die spoedhobbel voor die CVO-skool oorgeverf. Hierdie projek, waarvan die koste R10 000 beloop, is in samewerking met Herotel aangepak.

Hierdie projek volg op ’n besige Oktober tot dusver vir die Vryburg-tak, wat ook al 1,2 hektaar se gras op die dorp gesny het om sigbaarheid en veiligheid te verbeter.

“Die AfriForum-tak in Vryburg het die projek in Springbokstraat aangepak omdat hierdie pad in ’n geweldige slegte toestand was. Dit was ook belangrik om die spoedhobbel voor die CVO-skool oor te verf om motoriste te waarsku dat hulle stadiger moet ry. Die tak het tot dusver ’n besige jaar gehad en sal aanhou om projekte aan te pak om Vryburg ’n beter en veiliger omgewing vir almal te maak,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die tak beplan om die oorblywende spoedhobbels ook nog oor te verf en beoog om ’n soortgelyke projek in ander strate op die dorp aan te pak.

Sluit vandag by AfriForum aan en word deel van die oplossing: Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings