|

Vermeende rower loop sy rieme styf, danksy AfriForum-hommeltuig

Die AfriForum-buurtwag van Vaalharts se hommeltuig-eenheid het op 15 Oktober ’n beduidende rol gespeel in die arrestasie van ’n vermeende gewapende rower in die omgewing van Taung en Hartswater. Dié sukses volg ná ’n interprovinsiale soektog na die verdagte en sy vier makkers.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die verdagtes agternagesit ná ’n gewapende roof. Die vermeende rowers was in ’n jaagtog met die SAPD betrokke, waartydens hulle verskeie kere op die SAPD geskiet het. Die verdagtes het die voertuig verlate gelaat en verder te voet in ’n digte veld in gevlug. Ondanks die beboste terrein het die waaksaamheid en vinnige optrede van die AfriForum-buurtwag se hommeltuig-eenheid daartoe gelei dat die eerste verdagte binne minute omstreeks 19:00 aangekeer is.

Die waardevolle inligting wat van die gearresteerde individu verkry is, het die SAPD se pogings versterk om die oorblywende vier verdagtes op te spoor en vas te trek. Hierdie groep vermeende rowers kan moontlik verbind word met ’n reeks gewapende rooftogte wat die afgelope maande die Noordwes en Noord-Kaap geteister het.

“Die samewerking tussen die Vaalharts-buurtwag en die plaaslike SAPD is ’n voorbeeld van die positiewe impak wat gemeenskapsbetrokkenheid op die handhawing van veiligheid en sekuriteit kan hê. Hierdie suksesvolle operasie beklemtoon nie net die doeltreffendheid van die buurtwag se hommeltuig-eenheid nie, maar ook die belangrikheid van die bevordering van sterk vennootskappe tussen wetstoepassingsagentskappe en plaaslike gemeenskappe,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

“Luidens die SAPD sou hierdie arrestasie nie moontlik gewees het sonder die gebruik van die hommeltuig nie. Dit beklemtoon die onskatbare rol wat tegnologiese vooruitgang speel in die verbetering van wetstoepassingsvermoëns. Die gebruik van hommeltuie in sulke operasies verhoog nie net wetstoepassingspersoneel se veiligheid nie, maar fasiliteer ook die vinnige en doeltreffende aankeer van verdagtes, wat uiteindelik bydra tot die handhawing van openbare veiligheid,” sluit Smit af.

Dit is onseker of die SAPD die ander vier verdagtes intussen opgespoor en in hegtenis geneem het.

Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum Vaalharts-tak te ondersteun en ’n golf van positiewe verandering in die gemeenskap teweeg te bring.

Soortgelyke plasings