| |

Tribunaal lewer uitspraak teen nuwe ontwikkeling van 4 702 erwe op plaas Palmietfontein

Klerksdorp se AfriForum-tak en talle ander beswaarmakers het sukses behaal toe die ontwikkelaar wat ’n aansoek gebring het om 4 702 erwe op gedeeltes van die plaas Palmietfontein 403 – wat aan Doringkruin grens – te ontwikkel, se aansoek misluk het. Die Tribunaal, wat op 6 Junie gesit het, het verlede week aangevoer dat die aansoeker nie verskyningsbevoegdheid gehad het nie.

AfriForum en die ander beswaarmakers het onder meer aangevoer dat baie dele van Suid-Afrika, waaronder Klerksdorp, onder uiters swak munisipale dienslewering gebuk gaan. ’n Groot rede hiervoor is dat grootskaalse ontwikkeling plaasvind, wat polities gedrewe is, sonder dat die nodige dienste daar is. Daar is ook gevind dat daar geen omgewingsimpakstudie vir die ontwikkeling goedgekeur is nie en dat die beplande ontwikkeling nie belyn is met Klerksdorp se Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk nie.

Die ontwikkeling sou sosiale behuising, besigheidsentrums en opvoedkundige instellings ingesluit het. AfriForum is nie in wese gekant teen ontwikkeling en dorpstigting nie want daar is ’n tekort aan behuising, skole en hospitale, maar dit is vir AfriForum baie belangrik dat daar aan alle wetlike aspekte, insluitend behoorlike publieke deelname, voldoen word. Dit is ook van uiterste belang dat daar dienste soos water, krag en riolering is voordat die ontwikkeling plaasvind omdat daar reeds baie munisipale probleme in dié gebied is, juis omdat daar nie aan die vraag na hierdie dienste voorsien kan word nie.

“AfriForum sal waghou om te verseker dat die regte prosesse gevolg word en dat die nodige dienste daar is voordat ontwikkelings soos die beplande een vir Palmietfontein plaasvind. Inwoners moet waaksaam bly en betyds optree indien enige kennisgewing verskyn wat hulle regte in gedrang kan bring. Openbare deelname is ’n wetlike vereiste in munisipale prosesse, en dit is noodsaaklik dat inwoners hul regte dienooreenkomstig uitoefen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Word deel van die oplossing: Kontak Neil Strydom van AfriForum by 081 506 4415.

Soortgelyke plasings