|

Vanderbijlpark: Substasie weer agter slot en grendel ná jongste plundertog

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het die afgelope naweek op versoek van die gemeenskap ingespring om die dorp se noodsaaklike kraginfrastruktuur teen vandale te beskerm. Dié tak het nóg omheining aangekoop sodat niemand onregmatig toegang tot die substasie op Carpentierstraat kan verkry nie. Hierdie substasie loop gereeld deur onder vandale, wat inwoners dikwels vir dae lank sonder krag laat.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, sê hierdie AfriForum-tak het hande gevat met die gemeenskap om seker te maak dat die omheining wat onlangs deur boosdoeners beskadig is, so gou moontlik vervang word. Verdagtes het sowat twee weke gelede ’n deel van die omheining, wat AfriForum jare gelede geskenk het, beskadig. Die boosdoeners het probeer om kabels te steel, maar was onsuksesvol toe die substasie se alarmstelsel hulle skrik op die lyf gejaag het.

“AfriForum se Vanderbijlpark-tak het vinnig op die voorval gereageer en die beskadigde deel van die heining vervang. Lede van die gemeenskap, in samewerking met die tak se buurtwag, het ingespring en die nuwe omheining opgerig,” sê Blignault.

Die omheining is egter nie die eerste keer wat AfriForum se Vanderbijlpark-tak bydra tot die beveiliging van die substasie nie. Die tak sny gereeld die gras om die substasie waarin boosdoeners dikwels skuil. Hiermee saam het die tak al by vyf ander substasies alarmstelsels laat installeer.

“AfriForum se Vanderbijlpark-tak is daartoe verbind om die gemeenskap en hul belange te ondersteun sodat elkeen in ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing kan floreer,” sê Blignault. “Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om met die gemeenskap te werk om Vanderbijlpark vir al sy inwoners te verbeter.”

Besoek www.wordlid.co.za om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in die gebied te maak.

Soortgelyke plasings