|

Malmesbury-tak plant agt bome om dorp te verfraai

AfriForum se Malmesbury-tak het verlede maand sy deel gedoen om boomplantmaand te ondersteun deur agt bome op die dorp te plant. AfriForum beywer om jaarliks in September inheemse bome oor die land heen te plant as ’n praktiese en simboliese gebaar van volhoubare omgewingsbestuur.

Vanjaar het die Malmesbury-tak besluit om verskeie inheemse bome by ’n paar sleutelpunte te plant, soos by die stadsaal, ’n plaaslike park en voor die oorlogsmonument, om hierdie spesifieke gebiede te verfraai.

“Die bome voor die stadsaal dien as ’n hartlike verwelkoming vir inwoners en besoekers en dit dra ook by tot die visuele aantrekkingskrag van die omgewing. Die bome gaan boonop binnekort die luggehalte verbeter en in die toekoms broodnodige skadu gedurende die warmer maande verskaf,” sê Marius van Zyl van AfriForum se Malmesbury-tak.

Die bome wat by die plaaslike park geplant is sal ook die gemeenskap aanmoedig om van dié openbare ruimte gebruik te maak. Hierdie toevoeging strook met AfriForum se Malmesbury-tak se pogings om ’n gesonde en volhoubare leefstyl vir inwoners te bevorder.

Van Zyl voeg by dat hierdie dorp se AfriForum-tak jaarliks probeer bydra tot ’n groener en meer volhoubare dorp. Kontak Riaan Muller by 072 920 2984 om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings