|

AfriForum Jeug eis optrede teen studente wat ‘Kill the boer’ sing

Die sing van die lied Kill the boer Vrydagaand deur Julius Malema, leier van die EFF, en studente van die Economic Freedom Fighters Student Command (EFFSC) tydens ’n “openbare lesing” by die Universiteit van Pretoria (UP) skep volgens AfriForum Jeug ’n vyandige atmosfeer wat studente se veiligheid bedreig.

AfriForum Jeug eis onder meer dat die universiteit teen studente optree wat hierdie lied gesing het – veral in die lig van die EFF se gewelddadige en diskriminerende optrede die afgelope vyf jaar.

Die jeugorganisasie eis ook dat die universiteit studente om verskoning vra dat hulle hierdie byeenkoms op kampus toegelaat het aangesien dit teenstrydig is met die universiteit se beleid, wat ’n inklusiewe, niediskriminerende omgewing bevorder. Verder vra hulle ook dat daar oorweeg moet word om die EFFSC op die UP te deregistreer as ’n amptelike studentevereniging.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n lied soos Kill the boer, kill the farmer op kampus in ’n lesingslokaal gesing word. Die universiteit se beleid sê duidelik dat die UP ’n diverse kampus is met plek vir almal, maar dit is teenstrydig met die verenigings en praatjies wat hulle op kampus toelaat,” sê Yvonne Gerber, jeugontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat heelwat studente nie rasseskeiding of -spanning soek nie; hulle wil saam as ’n eenheid op kampus wees, maar dan kom organisasies soos die EFF en saai verdeeldheid.

Volgens inligting tot AfriForum Jeug se beskikking het die universiteit wel die byeenkoms goedgekeur, maar hulle was nie bewus dat daar studente is wat in daardie gebou toets sou skryf nie. Alhoewel die toets afgehandel was voor die EFF-lesing begin het, het EFF-lede vroeg reeds voor die gebou byeengekom en het die studente wat toets geskryf het, nie geweet waarom die EFF buite die gebou was nie.

Studente moes na afloop van hul toets tussen singende lede van die EFF deurbeweeg en voer aan dat die universiteit nie proaktief opgetree het om bykomende maatreëls vir studente se veiligheid te tref nie. Ekstra kampussekuriteit was ook nie in hierdie area te sien nie.

Luidens ’n verklaring van AfriForum Jeug was die EFFSC die afgelope vyf jaar betrokke by talle voorvalle van rassisme, intimidasie, ontwrigtende protesoptrede en geweld. Hierdie gedrag ondermyn gedurig die gevoel van veiligheid en eenheid wat die universiteit behoort te koester. Terwyl daar wel ruimte is vir vryheid van uitdrukking, mag dit onder geen omstandighede haatspraak of die aanhitsing van geweld behels nie – iets wat die EFFSC herhaaldelik bevorder, meen AfriForum Jeug.

Dié organisasie voel sterk daaroor dat die manier waarop die EFF politiek toepas, nie gepas is op kampus nie.

“Die teenwoordigheid van Malema op kampus, ’n persoon wat bekend is daarvoor dat hy rassespanning en verdeeldheid kweek, is absoluut onaanvaarbaar. Deur vir Malema die platform op ’n goue skinkbord aan te bied, het die universiteit dit duidelik gemaak dat dit aanvaarbaar is om geweld en rassisme aan te hits en dit is ’n direkte bedreiging vir die veiligheid van alle studente by die UP,” sê Maree van den Berg, voorsitter van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

Volgens Gerber kan haatspraak, rassisme en geweld op kampus nie genormaliseer word nie. “Die universiteit moet duidelik standpunt inneem teen hierdie gedrag en daadwerklik optree om hierdie voorvalle in die toekoms te voorkom.”

Soortgelyke plasings