|

Nuwe heining hou booswigte uit veld by gevaarlike Pretoria-Oos-kruising

AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak, tesame met die AfriForum-tak in Moreletapark, het op 12 Oktober ’n Clearview-heining om die veld op die hoek van Garsfonteinweg en De Villabois Mareuil-rylaan laat installeer. Motoriste loop gereeld onder misdaad deur wanneer hulle by die verkeerslig op dié hoek moet stilhou. Voertuie se ruite word uitgeslaan om items uit die voertuig te gryp – die skuldiges vlug dan te voet in die oop stuk veld in langs die pad. Danksy AfriForum is dié veld nou egter minder toeganklik vir voortvlugtiges en hulle kan dus makliker voorgekeer word wanneer hulle agternagesit word.

Die heining is altesaam 60 meter lank, oftewel 30 meter lank aan beide kante van die pad (Garsfontein en De Villabois Mareuil).

“Dit is vir AfriForum belangrik om die publiek veilig te hou, daarom doen ons ’n beroep op motoriste om altyd waaksaam te wees wanneer hulle by enige verkeerslig stilhou. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om knelpunte in die omgewing te beveilig,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Raak vandag by een van dié AfriForum-takke betrokke deur AfriForum Garsfontein/Faerie Glen en AfriForum Moreletapark op Facebook te volg. Jy kan ook as lid tot die tak se projekte bydra deur aan te sluit by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings