|

Park én skole baat uit AfriForum se boomplant-projek

Die AfriForum-tak in Matzikama het in September as deel van Nasionale Boomplantmaand die Rosendal-park in Vredendal aangeneem en spekbome in die park geplant. Die park is ook opgeknap en mooi gemaak.

Met hierdie inisiatief maak die tak die park meer aanskoulik vir die gemeenskap, terwyl dit ook volhoubaarheid en groen ruimtes in die omgewing bevorder.

Verder het die tak ook ses spekbome aan onderskeidelik die Laerskool Vredendal en die Hoërskool Lutzville geskenk. Hierdie skenking verryk nie net die skoolterrein nie, maar bied ook waardevolle geleenthede vir leerders om by die natuur betrokke te raak, te leer oor omgewingsbewaring en trots te wees op die skoonheid van hul omgewing.

“Bome speel ’n belangrike rol in die handhawing van ekologiese balans, die suiwering van lug en dit gee blyplek vir insekte, voëls en ander diere. Verder dra dit by tot die algehele welstand van gemeenskappe deur skadu vir ontspanning aan te bied,” sê Willem van Zyl, wat die boomplantmaand-projek vir AfriForum se Matzikama-tak bestuur.

Die AfriForum-tak in Matzikama moedig die publiek aan om by hul inisiatiewe betrokke te raak. Kontak Eric van Zyl, die takvoorsitter, by 072 305 4220.

Soortgelyke plasings