|

Kom teken saam protes aan teen Bela-wet  

Die Solidariteit Beweging gaan op 5 November ’n dag van protes teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela-wet) hou. Dié optog sal by die Voortrekkermonument (VTM) begin vanwaar daar tot by Freedom Park gestap sal word.

Verskeie Afrikaanse organisasies en tientalle beheerliggame het reeds aangedui dat hulle dié dag gaan bywoon, maar die breër publiek se ondersteuning word ook gevra om te help om die voortbestaan van gehaltemoedertaalonderrig en meer spesifiek Afrikaanse skole te verseker.

Mense wat dié optog wil bywoon kan vanaf 08:00 by die VTM byeenkom waarna die verrigtinge om 10:00 sal begin.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gaan die onderhandelinge met verskeie partye rakende Bela voluit voort. “Daar is ’n magsbalans in onderhandeling nodig. Die protessaamtrek en -optog is noodsaaklik om ons protes in die openbaar te wys. Hierdie is nie ’n klein politieke geskil nie. Dit gaan oor die oorlewing van ’n taal- en kultuurgemeenskap,” sê Buys.

Alhoewel pres. Cyril Ramaphosa reeds die Bela-wet afgeteken het, het hy drie maande uitstel gegee vir verdere samesprekings oor artikel 5 en 6. Hierdie twee artikels hou die grootste bedreiging vir die voorbestaan van Afrikaanse skole in aangesien dit beheerliggame van skole van die finale sê van taal- en toelatingsvereistes sal ontneem en na ’n staatsamptenaar sal oordra. Die eerste maand sedert dié aankondig is reeds verby sonder dat enige samesprekings tussen belanghebbendes en die regering plaasgevind het.

“Ons tyd is dus min. Ons doen ’n beroep op beheerliggame en ouers om in groot getalle te mobiliseer om só te help om Bela te stop. Ons doen ’n beroep op jou, asook jou vriende en familie om in groot getalle op te daag. Dit is een dag se stap vir die toekoms van ons kinders,” sê Buys.

Die Thabo Mbeki Stigting het die afgelope week ’n verslag uitgereik oor die gebeure vroeër vanjaar by Pretoria High School for Girls (PHSG). Hiertydens is sommige leerders weens ongegronde bewerings van rassisme aangekla, die skool se naam is in die media beswadder en die skoolhoof is wederregtelik geskors. In ’n skrywe wat op 10 Oktober 2024 deur oudpresident Mbeki aan die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, gestuur is, veroordeel Mbeki die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se inmenging by dié skool ten sterkste. Hy veroordeel onder meer dat die departement ingetree het voor enige bewyse van rassisme gelewer is.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie tot die verslag gesê dis presies hierdie soort optrede wat AfriForum noop om sterk standpunt teen die Bela-wet in te neem. Hy het bygevoeg dat die departement se optrede by PHSG weer bewys het dat Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, Chiloane en die GDO bullebakke is wat diktatoriale beheer oor skole wil hê, tot nadeel van kinders, ouers en die magte van beheerliggame.

 Vir meer inligting oor die protesoptog en om te registreer  besoek www.belaprotes.co.za.

Soortgelyke plasings