| |

AfriForum sê Mbeki-verslag oor GDO se politieke inmenging by PHSG bewys noodsaak van teenstand teen Bela-wet

Die Thabo Mbeki Stigting se verslag wat op 10 Oktober 2024 deur oud-president Mbeki aan die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, gestuur is, veroordeel die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se inmenging by Pretoria High School for Girls (PHSG) in die sterkste terme. In die oud-president se skrywe aan Chiloane kritiseer hy onder meer dat die departement al ingetree het voor daar enige bewyse was dat daar waarheid steek in klagtes oor sogenaamde rassisme by dié skool. Verder verwys hy na die gebeure as ’n “ongelukkige voorval” en beklemtoon die gevaar wat dit inhou om verdeeldheid tussen gemeenskappe te saai en gesonde debat te demp.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die Gautengse departement al jare lank berug vir oorreaksie op ongetoetste bewerings teen funksionele skole, terwyl weinig oor die wanfunksionele skole in die provinsie bekendgemaak word. “Die departement sweep graag gemeenskappe teen mekaar op en gebruik skole en kinders as politieke pionne, in plaas daarvan om op gehalte onderrig te fokus en onderwysspanne en beheerliggame te ondersteun. Een van die mees vernietigende gevolge hiervan is dat uitnemende onderwysers en hoofde nie die voortdurende spanning kan hanteer nie en vroeg aftree, of die onderwyssektor verlaat.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die departement se optrede by PHSG weer bewys dat premier Panyaza Lesufi, LUR Chiloane en die GDO bullebakke is wat diktatoriale beheer oor skole wil hê, tot nadeel van kinders, ouers en die magte van beheerliggame. Dit is nóg ’n rede waarom AfriForum die dele van die Bela-wet wat drakoniese magte aan Lesufi en sy ideologies-gedrewe span verleen, teenstaan.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om deel te neem aan die optog teen die Bela-wet wat op 5 November 2024 van 09:00 af van die Voortrekkermonument na Freedom Park in Pretoria sal plaasvind. Inligting en registrasievorms is beskikbaar by www.belaprotes.co.za.

Soortgelyke plasings