|

16 nuwe protospanlede nou gereed om hul gemeenskappe te beskerm

Nog 16 AfriForum-buurtwaglede het die afgelope week die organisasie se protospan-opleidingskursus suksesvol voltooi. Lede van takke in Lichtenburg, Brits, Songloed, Midlands, Paulpietersburg, Margate, Utrecht en Vryheid het die weeklange opleiding, wat in die noorde van KwaZulu-Natal aangebied is, ondergaan. Hulle vorm nou deel van die meer as 230 gespesialiseerde buurtwaglede, bekend as protospanlede, wat deur AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid opgelei is.

Die kursus bied onder meer gespesialiseerde opleiding in taktiese vuurwapenhantering, praktiese selfverdediging, bloedingbeheer, verskeie relevante wetlike aspekte, die hantering van ’n misdaadtoneel, die opstel van beheerpunte en ontruiming onder vuur. Die kursus fokus ook op die insameling van inligting, die opstel van effektiewe waarnemingspunte en effektiewe radiogebruik.

Protospanne vorm deel van AfriForum se buurtwagte en is van die eerste veiligheidsrolspelers om op ernstige misdade te reageer. In-diepte en gevorderde opleiding is dus noodsaaklik vir hierdie lede, wat hul gemeenskappe vrywillig dien.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is die protospankursus nie maklik nie en ontwerp om lede voor te berei vir uitdagende en gevaarlike situasies waarin hulle hulself kan bevind terwyl hulle hul pligte uitvoer. Lede moet byvoorbeeld ’n reeks skietoefeninge in die nag voltooi. As deel van hierdie sessies word flikkerligte gebruik om lede te disoriënteer en die oefening so realisties moontlik te maak. In ’n ander oefening moet deelnemers dekkingsvuur verskaf, terwyl hulle oor die radio om hulp ontbied voordat hulle ’n gewonde lid moet ontruim.

“Hierdie oefeninge, waar lede onder druk moet funksioneer en met lewendige ammunisie moet skiet, stel hulle bloot aan situasies wat hulle in die werklike lewe kan verwag. Dit is vir AfriForum ’n prioriteit om die opleiding so realisties moontlik aan te bied. Dis wat die burgerregteorganisasie se protospanne so suksesvol maak in die werklike lewe,” sê Broodryk.

AfriForum het tot dusver reeds meer as 230 protospanlede opgelei, wat elkeen ’n aktiewe rol in AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture landwyd speel. Byna 11 000 vrywilligers is by hierdie strukture betrokke.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings