|

Misdaadstatistiek: AfriForum sê SAPD moet sy huis in orde kry

In ’n misdaadgeteisterde land soos Suid-Afrika kan onbetroubare misdaadstatistieke verreikende gevolge vir wetstoepassers, openbare veiligheid en die strafregstelsel inhou. Dit is daarom volgens AfriForum uiters kommerwekkend dat die ouditeur-generaal bevind het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistiek onbetroubaar is.

Die ouditeur-generaal het verskeie gevolge van onbetroubare misdaadstatistiek in haar verslag uiteengesit, waaronder:

  • Dat onakkurate en onvolledige versameling van klagtes en slagoffers se besonderhede misdaadstatistiek vertrek en dit dan moeilik maak om doeltreffende misdaadvoorkomingstrategieë te ontwikkel en hulpbronne doeltreffend toe te wys;
  • Dat swak rekordhouding en die versuim om dossiere behoorlik by te hou die hofprosesse ondermyn en misdaadslagoffers daarvan ontneem om geregtigheid te kry en;
  • Dat daar geen opbrengs van belegging op die geïntegreerde stelsel vir die bestuur van dossiere (ICDMS) is nie aangesien dit nie voldoende benut word nie.

Volgens AfriForum verduidelik dit ook die teenstrydighede in verslagdoening. Die onbetroubare misdaadstatistiek kan ook waarskynlik verantwoordelik wees vir die jaarlikse teenstrydighede in die SAPD se plaasaanvalsyfers en dié van private organisasies soos AfriForum.

AfriForum ontvang ook gereeld klagtes van die publiek oor die uitdagings wat hulle ervaar wanneer hulle probeer om ’n saak by polisiestasies aan te meld. Klaers rapporteer ook gereeld dat beamptes belangeloos voorkom of hulle meedeel dat hulle die saak by ’n ander polisiestasie moet gaan aanmeld. Hierdie gedrag verswak verder die publiek se vertroue in die SAPD en ondermyn misdaadrapportering.

“In die lig hiervan doen AfriForum ’n beroep op die SAPD om aandag te gee aan die onbetroubaarheid van hul misdaadstatistiek en ook die dienslewering by polisiestasies. Ons het ’n ernstige misdaadprobleem wat die land affekteer, die SAPD moet harder werk om die publiek se guns te wen en dit begin by akkurate statistieke en professionele optrede,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid.

“Ons moet ook vra of hierdie probleem doodeenvoudig toegeskryf kan word onbevoegdheid of is daar ’n doelbewuste poging deur sekere lede van die SAPD om met misdaadstatistiek te peuter,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings