|

Knysna-tak plant 111 bome tydens boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Knysna het tydens AfriForum se jaarlikse boomplantmaand-projek alle verwagtinge oorskry deur sy eie mylpaal om 100 bome te plant, te laat spat. Die tak het aan die begin van September homself uitgedaag om minstens 100 bome in die omgewing te plant. Nie net het hierdie tak sy eie doelwit behaal nie, maar dit oortref deur altesaam 111 bome in die groter Knysna omgewing te plant.

Die bome is verdeel en aan verskeie organisasies in die omgewing uitgedeel om in hul onderskeie areas te plant. Die Witstinkhout (Celtis africana), Waterpeer (Syzygium guineense), Waterbessie (Syzygium cordatum) en Geelhoutbome (Podocarpus latifolius) is onderskeidelik aan Revive Knysna, Revive Sedgefield, die Sedgefield Island Conservancy en ’n woud rehabilitasie projek uitgedeel.

Die tak beplan ook om by verskeie skole en kerke in die omgewing bykomende bome te plant. “AfriForum is dankbaar en opgewonde om saam met hierdie organisasies te werk om ’n groener toekoms te skep,” sê Mornay Bouwer, voorsitter van AfriForum se Knysna-tak. “Deur saam te werk kan soveel meer bereik word en daar boonop skaduwee aan ons kinders verskaf word.”

Die Knysna-tak is daartoe verbind om ’n skoon en veilige omgewing te kweek, daarom het die tak reeds verskeie projekte in die gemeenskap aangepak om teen swak dienslewering en vir die behoud van ’n beter toekoms te veg. Sluit vandag aan om die Knysna-tak te help om nóg meer te doen. Stuur ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Marthinus Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings