| |

Standerton-buurtwag slaan toe op winkels met vervalde, onveilige goedere

AfriForum se Standerton-tak en -buurtwag het tydens September die dorp op elke denkbare gebied help beveilig. Dié buurtwag het nie net brande help bestry, vermiste kinders opgespoor en op verskeie noodsituasies gereageer nie, maar ook saam met verskeie rolspelers op winkels in Standerton toegeslaan wat vervalde en onveilige goedere aan die publiek verkoop.

Voordat die tak behoorlik besig geraak het, het die buurtwag eers verskeie lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bygestaan toe hul voertuie se bande afgeblaas het. Die tak het vinnig ingespring, die wiele gepomp en die voertuie weer op die pad gekry.

Die buurtwag het regdeur die maand aan verskeie inspeksies deelgeneem waarin die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit, die Departement van Binnelandse Sake, Kasselman Security Services en die SAPD betrokke was om onwettige immigrante by winkels in Standerton vas te trek. Daar is ook op sommige van dié winkels toegeslaan om te verseker dat goedere wat aan die publiek verkoop word nie verval het of onveilig is vir menslike gebruik nie.

“Die inspeksies wat by hierdie winkels gedoen is, was ’n reusesukses en in die proses is talle produkte nagegaan om die veiligheid van die gemeenskap te verseker,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Benewens dié ingrypings het die AfriForum-buurtwag ook op verskeie motorongelukke en noodsituasies gereageer en bystand aan nooddienste gebied. In een van die gevalle is die buurtwag ontbied nadat ’n kind as vermis aangemeld is. Die kind is met behulp van die buurtwag se pogings binne 24 uur opgespoor en aan sy voogde terugbesorg.

Verder het die tak gehelp om verskeie veldbrande te blus deur broodnodige hulp aan boere rondom Standerton te bied. Gedurende die maand het sterk winde opgesteek en tot 70 km/h gewaai. Hierdie gure weerstoestande het tot verskeie wegholbrande gelei wat ’n verwoestende uitwerking op plaaslike boere sou gehad het. Die buurtwag het egter nie geskroom om hand by te sit waar daar wel brande uitgebreek het nie. Die lede het regdeur die maand fluks gehelp om hierdie brande te bedwing.

Dié AfriForum-buurtwag het ook tydens die Standerton-skou deelgeneem aan verskeie veiligheid- en nooddiens-demonstrasies. Die tak het ook hand bygesit toe daar waterprobleme by die skou opgeduik het. Die tak het verseker dat geen van die diere sonder water sit nie. Die tak het boonop deelgeneem aan die Northern Light Foundation se Kokkedoor potjiekoskompetisie en met eerste prys weggestap.

“AfriForum se Standerton-tak is daartoe verbind om die dorp te verbeter en met elke ingryping en aksie maak hierdie tak ’n belangrike verskil op die dorp. AfriForum sal voortgaan om te veg vir hierdie gemeenskap en al sy inwoners te ondersteun en beveilig,” sluit Enslin af.

Soortgelyke plasings