|

21 witstinkhoutbome verfraai Welkom

AfriForum se Welkom-tak het die laaste naweek in September ’n betekenisvolle bydrae tot omgewingsbewaring gelewer deur altesaam 21 witstinkhoutbome in verskeie gebiede in Welkom te plant. Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se strewe om plaaslike gemeenskappe by die beskerming van ons natuurlike omgewing te betrek.

Christo van Zyl, bestuurslid van die AfriForum-buurtwag in Welkom, het 15 bome by die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron geplant en vyf bome by Silwerbron sentrum vir bejaardes. Van Zyl beklemtoon die belangrikheid van hierdie projek en sê dat dit vir hom uiters waardevol is om saam met die jeug voort te bou op ’n gesamentlike toekoms. “Deur hierdie bome te plant, skep ons ’n nalatenskap wat die gemeenskap se toewyding aan ’n beter omgewing weerspieël,” sê hy.

Ds. Danie Louw, voorsitter van AfriForum se Welkom-tak, het Sondagoggend tydens ’n seremonie by die NG Kerk in Mimosa Park, Odendaalsrus, ook ’n witstinkhoutboom geplant. Die gepaste preek tydens hierdie boomplantseremonie, met die tema Die boom van die lewe en die boom van alle kennis, het die simboliek van bome in die Christelike geloof uitgelig en die belangrikheid van groei en wysheid vir toekomstige geslagte beklemtoon.

Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het bygevoeg dat September ’n maand was van nuwe hoop en vernuwing. “September is die tyd van die jaar waar daar nuwe moed geskep word. ’n Mens kan weer sien dat daar steeds goedheid en skoonheid in die wêreld is, daarom is dit vir my persoonlik een van AfriForum se beste projekte gedurende die jaar,” sê sy.

AfriForum se Welkom-tak bly daartoe verbind om inisiatiewe soos hierdie te bevorder met die doel om ’n positiewe impak op die omgewing en die gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings