|

Lesufi se optrede verdoesel glo beweerde misdade; beskerm amptenare

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, wat om verskeie redes die afgelope tyd in die nuus was, het weer opslae gemaak. Dié keer vir die beweerde toesmeer van korrupsie, bedrog en geldwassery van miljoene wat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling veronderstel was om te gebruik om maatskappye sonder winsoogmerk (MSW’s) in nood, te help.

Hierdie inligting het aan die lig gekom toe ’n fluitjieblaser AfriForum se privaatvervolgingseenheid gekontak het. Dié eenheid gaan die fluitjieblaser nou help om die geïmpliseerde amptenare en hulle instaatstellers, wat politici insluit, strafregtelik aanspreeklik hou.

Luidens die talle forensiese verslae wat die privaatvervolgingseenheid deurgewerk het, was die fondse veronderstel om MSW’s te help met die implementering van voedselbank-, skooluniform- en waardigheidspakkie-programme. Hierdie geld is eerder gebruik vir onder meer die aankoop van luukse voertuie en huise, asook ’n plaas. Dit is verder gebruik om skoolgeld en luukse oorsese vakansies te betaal.

Die amptenare wat na bewering die bedrog, korrupsie en geldwassery gepleeg het, word in die verslae geïdentifiseer en daar is voorgestel dat daar sowel dissiplinêre as strafregtelike teen hulle opgetree word. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het die 13 geïmpliseerde amptenare tussen September 2023 en Januarie 2024 geskors. Hulle skorsings is egter intussen opgehef en hulle is weer terug by die werk.

Volgens die fluitjieblaser is die verslae aan Lesufi voorgelê. Hy het egter eerder ’n regsfirma aangestel om die verslae te hersien en die geïmpliseerde amptenare vrygespreek in plaas daarvan om op die aanbevelings te reageer. Hy het ook die mandaat van die regsfirma beëindig, wat aangestel was om die 13 amptenare se dissiplinêre verhore te behartig.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê in sy skrywe aan Lesufi se kantoor dat dit blyk of hul optrede ’n poging is om die beweerde misdade te verdoesel en die geïmpliseerde amptenare te beskerm. Volgens Nel is dit byna ondenkbaar dat ’n departement hul eie verslag, wat onafhanklik saamgestel is, sal hersien.

Lesufi het volgens Nel ingevolge artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite ’n verantwoordelikheid om die oortredings aan te meld.

Volgens hom het die fluitjieblaser die eenheid genader weens die regering se kommerwekkende mislukking om fluitjieblasers te beskerm. “Ons het nog nie die moontlikheid uitgesluit om die howe te nader om Lesufi te dwing om sy pligte na te kom nie.”

“Die fluitjieblaser beweer dat Lesufi se versuim om die ondersoek uit te brei, die struikelblok in die pad is van ’n interne dissiplinêre- en strafregtelike proses teen die geïmpliseerde amptenare. Daar word na bewering gevrees dat ’n volledige ondersoek na die bewerings uiteindelik die finale begunstigdes van hierdie onwettige fondse sal ontbloot. Die privaatvervolgingseenheid is sterk gekant teen selektiewe vervolging en sal die ontwikkelings fyn dophou om te verseker dat die geïmpliseerde persone verantwoordbaar gehou word,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings