|

Groblersdal-tak en AfriForum-traumaeenheid staan slagoffers van plaasaanval enduit by

Die plaasaanvaller wat Lorraine Prinsloo en haar man, Mike, op 23 Desember 2022 met ’n panga aangeval het is in die Groblersdal-landdroshof tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. AfriForum se Groblersdal-tak en die AfriForum-traumaeenheid het ’n reusebydrae gelewer wat uiteindelik tot hierdie vonnisoplegging gelei het.

Die aanvaller is ’n totaal van 26.5 jaar gevangenisstraf opgelê: 18 jaar vir roof met verswarende omstandighede, agt jaar vir huisbraak met die opset om te steel, en ses maande vir dieremishandeling. Die vonnis word gelyklopend uitgedien.

Die Groblersdal-tak het in Januarie 2023 ’n memorandum aan die Groblersdal-landdroshof voorgelê tydens die beskuldigde se aansoek om borgtog. Die memorandum het die dringende behoefte aan konsekwente en besliste optrede teen misdadigers beklemtoon. Die tak het verder ’n beroep op die hof gedoen om die beginsels van geregtigheid te handhaaf en die regte van die slagoffers te beskerm. ’n Tweede memorandum is in Februarie vanjaar aan die Groblersdal-landdroshof asook die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, en die voormalige minister van Justisie, Ronald Lamola, gerig en hul versoek herhaal.

Volgens Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, bring hierdie uitspraak hoop aan die boeregemeenskap. “AfriForum sal voortgaan met ons proaktiewe benadering om te verseker dat misdadigers aan die pen ry.”

Magda Coetzee, ’n trauma-ondersteuner by die AfriForum-traumaeenheid, het van die begin af die pad saam met die Prinsloo-egpaar gestap en ook gehelp om haar voor elke hofverskyning voor te berei vir wat op haar kan wag.  “Dit was regtig ’n ongelooflike voorreg om vir Lorraine en Mike by te staan ná hierdie traumatiese insident. Die trauma wat met só insident gepaard gaan is erg en uitgerekte hofsake veroorsaak sekondêre trauma. Dit is waarom die AfriForum-traumaeenheid doen wat ons doen, ons wil slagoffers bystaan tydens hierdie proses en hulle help om deur die trauma te werk.”

Lorraine het haar dankbaarheid teenoor die tak en die traumaeenheid uitgespreek. “Sonder die onderskraging en bystand by die hof sou ek soveel moeiliker deur daardie dae gekom het. Ek wil graag dankie sê vir die AfriForum-traumaeenheid waar die mense hul harte oopmaak om slagoffers by te staan en weer te help om tree vir tree vorentoe te gaan.”

Die tak het ook gereelde vergaderings met die SAPD om bande te bou en samewerking tussen wetstoepassers en gemeenskapsorganisasie te bevorder in die gesamentlike stryd teen misdaad.

“AfriForum bly onwrikbaar in ons verbintenis om druk toe te pas sodat geregtigheid uiteindelik kan geskied. Deur betrokke te wees in ons gemeenskap en in konstruktiewe gesprekke met die SAPD en ander rolspelers te tree bou ons saam aan ’n veiliger gemeenskap vir ons nageslag,” sê Coenie Meyer, voorsitter van AfriForum se Groblersdal-tak.

Raak vandag nog by die Groblersdal-tak betrokke by www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos na voorsitter.groblersdal@afriforumtak.co.za

Soortgelyke plasings