| |

AfriForum bied helpende hand aan Pta’ners ná substasiebrand Apiesrivier sonder krag laat

AfriForum se Apiesrivier-tak en -buurtwag bied die afgelope nege dae broodnodige ondersteuning aan die hele Apiesrivier-gemeenskap in die vorm van kos, water en beskerming. Dit volg nadat ’n verwoestende brand by die tydelike Pyramid-substasie dié deel van Pretoria sonder krag gelaat het. Nagenoeg 1 600 huishoudings word deur hierdie kragonderbreking geraak en as gevolg hiervan het inwoners se krane selfs begin leegloop.

Hierdie AfriForum-tak het sedert die brand in samewerking met verskeie rolspelers, insluitend gemeenskapslede, wyksraadslede verbonde aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit en die plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV), ’n gesamentlike operasionele sentrum op die been gebring om ondersteuning aan behoeftige inwoners te bied en skenkings te koördineer.

Die Tshwane-metro het reeds watertenkwaens gestuur om die gemeenskap te help, wat die AfriForum-buurtwag help beskerm. Hierdie buurtwag help ook bepaal waar die grootste behoefte is en koördineer die tenkwaens se bewegings om boere te help wat dringend water vir hul vee benodig.

“Die buurtwag is op hoë gereedheid wat misdaad betref en die BBV is bedag op die moontlikheid van veldbrande in die gebied. AfriForum en die plaaslike BBV het reeds gesamentlike gebeurlikheidsplanne gemaak om die gemeenskap te help, aangesien daar tans talle brande in die omgewing is en misdaad boonop in tye soos hierdie die hoogte in skiet,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Dis die tweede keer in ’n jaar wat die Pyramid-substasie brand en die gemeenskap weerloos laat. Verlede jaar het die gemeenskap 21 dae lank sonder krag gesit, wat enorme druk op kleinhoewes geplaas het. Vee het sonder kos en water gesit en misdaad het hoogty gevier.

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag is daartoe verbind om die gemeenskap in hierdie uitdagende tyd te beskerm en te bedien, maar deur samewerking kan soveel meer vermag word. AfriForum doen dus ’n beroep op die groter gemeenskap van Pretoria om in te spring en te help waar nodig. Kontak Hemmens by llewellynn.hemmens@afriforum.co.za om skenkings aan hierdie gemeenskap te maak of besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum betrokke te raak.

Soortgelyke plasings